Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jackson kan Catrakilis uit nr. 10-trui hou

As JT Jackson aanhou om te speel soos hy verlede week teen die Ospreys gedoen het, gaan Demetri Catrakilis sukkel om sy plek as losskakel in die Southern Kings se beginspan terug te kry.

JT Jackson op die aanval verlede week teen die Ospreys in Swansea. Tiaan Thomas-Wheeler is die Osprey wat probeer keer. Die ander Kings is Howard Mnisi en Jerry Sexton. Foto: Getty Images

Catrakilis het sy elmboog in Oktober in die Kings se Pro14-wedstryd teen Benetton beseer.

Robbi Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter, het toe ietwat verras deur JT Jackson van senter af na losskakel te skuif vir die span se laaste twee wedstryde op sy oorsese toer.

Hoewel die 23-jarige Jackson meestal losskakel op skool gespeel het, is hy die laaste paar jaar – by die Blou Bulle – op senter gebruik.

In die Kings se kragmeting verlede week met die Ospreys het Jackson in gietende reën prysenswaardig op losskakel vertoon.

Dit was hy wat Erich Cronjé se drie in die eerste helfte begin het.

Die Ospreys het afgeskop ná Scott van Breda ’n strafskop deur die pale gejaag het.

Elrigh Louw vroeër vanjaar in aksie vir die Junior Springbokke. Foto: Getty Images

Jackson het die bal in sy kwartgebied gevang, gesien daar is oop spasie agter die aanstormende Ospreys, en ’n kort lugskoppie gelos.

Die skrumskakel Josh Allderman het die bal weer in die hande gekry. Hy het ’n ent gehardloop, toe gee hy die bal uit buitentoe na die linkervleuel Josiah Twum-Boafo.

Twum-Boafo het weer binnetoe na Jackson aangegee en hy het die senter Cronjé weggestuur doellyn toe.

’n Paar wedstryde gelede, toe Catrakilis bietjie kleigetrap het teen Ulster, het Jackson ook op losskakel ingeskakel en toe onder meer gewys hy kan ’n goeie “skop-aangee” vir sy vleuel gee.

“JT is uitsonderlik talentvol en hy het ’n groot skopvoet – takties sowel as pale toe,” sê Kempson.

Hy is ook ’n groot seun. Hy is 1,91 m lank en hy weeg 100 kg en hy is ’n handvol op die verdediging sowel as die aanval.

Of Kempson met hom gaan volhard, sal nog gesien moet word. Dit klink in elk geval of Catrakilis ook nog die Kings se volgende wedstryd, op 30 November teen Connacht in Ierland, sal misloop.

Nog ’n jongeling wat al van die begin van die seisoen die aandag trek met sy inklimspel, is die 20-jarige veelsydige voorspeler Elrigh Louw.

Louw was as junior ’n slot, maar word as losvoorspeler by die Kings gebruik.

“Ek dink hy kan ’n Springbok-agtsteman word,” sê Kempson. “Hy is ’n baie spesiale speler, wat gemaklik in Pro14-rugby ingeskakel het.”

Jackson en Louw het albei vir die Suid-Afrikaanse o.20-span uitgedraf. Jackson in 2015 en 2016 en Louw vroeër vanjaar.

Meer oor:  Pro14  |  Jt Jackson  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.