Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jaco Kriel terug vir eerste CB-stryd in 5 jaar

Die Leeus sal Vrydag na Kimberley opruk met een van hul ou staatmakers op die bus.

Die Leeus-flank Jaco Kriel (regs) sal Saterdag vir die eerste keer sedert 2015 Curriebeker-rugby speel. Daardie jaar het hy die span aangevoer wat die Curriebeker gelig het. Foto: Gallo Images

Jaco Kriel sal Griekwas Saterdag in die Leeus se nr. 6-trui pak, vir sy eerste proesel van Curriebeker-rugby in vyf jaar. Dié Springbok-flank was meer as ’n maand laas op die rugbyveld. Hy was eers in kontak met iemand wat die koronavirus opgedoen het en toe het die afsterwe van sy pa hom buite aksie gehou.

Kriel se insluiting, ten koste van MJ Pelser, is een van ses veranderinge aan die span wat twee weke gelede teen die Pumas sou gespeel het. Dié wedstryd is toe gekanselleer. Vergeleke met die 15-tal wat in hul laaste wedstryd, drie weke gelede teen die Bulle, uitgedraf het, is daar egter net vier veranderinge.

EW Viljoen kry die geleentheid om die nr. 15-trui, wat Gianni Lombard se langtermyn-kniebesering vakant gelaat het, sy eie te maak, terwyl Ruan Dreyer vandeesweek op vaskopstut sal begin omdat Carlu Sadie weens persoonlike redes nie kan speel nie. Willem Alberts sou teen die Pumas sy eerste wedstryd in ’n maand gehad het en sal teen Griekwas ’n potensieel giftige kombinasie met Marvin Orie op slot vorm.

Almal van ons het grootgeword met hierdie kompetisie en daar is baie energie in die kamp.
Ivan van Rooyen

“Omdat ons vir drie weke nie ’n wedstryd gehad het nie, kon ’n paar ouens terugkeer en vat ons ’n klompie senior spelers saam Kimberley toe,” sê Ivan van Rooyen, die Leeus se afrigter.

“Ons het vanoggend gepraat, ’n ou soos Elton het die laaste vyf jaar in net twee Curriebeker-kompetisies gespeel en Willem Alberts se laaste Curriebeker-wedstryd was in 2013. So daar is baie opgewondenheid oor die naweek se wedstryd. Almal van ons het grootgeword met hierdie kompetisie en daar is baie energie in die kamp.”

Die Leeus het die Superrugby Unlocked-reeks in die vyfde posisie afgesluit, met 12 punte teenoor die 23 van die wenner, die Bulle.

Met daardie punte wat oorgedra word na die Curriebeker begin die Goudstad-span die reeks op die agtervoet, maar Van Rooyen sê dit verander nie veel aan hul benadering nie.

“Ons gaan die kompetisie beslis op volspoed moet begin, maar ons is in elk geval almal mededingend gebore – ons soek selfs na kompetisies in spanvergaderings en wanneer ons oefen,” spot hy.

Ons het ’n sterk groep van 45 spelers op wie se knoppies ons kan druk, so daar is nie sprake daarvan dat ons nie alles sal gee nie.
Ivan van Rooyen

“Ons het ’n sterk groep van 45 spelers op wie se knoppies ons kan druk, so daar is nie sprake daarvan dat ons nie alles sal gee nie. As jy in elk geval met sulke gedagtes in ’n plek soos Kimberley aankom, gáán jy verloor.”

Die Leeus het Griekwas in Oktober met 61-31 oorrompel toe die Poubloues Ellispark besoek het, maar Van Rooyen-hulle weet hulle gaan ’n perd van ’n ander kleur in Kimberley wees.

Griekwas het al ses hul wedstryde in die Unlocked-reeks verloor, maar Van Rooyen sê dit beteken nie hulle is ’n swak span nie.

“Ek dink nie hulle het in die Unlocked-kompetisie gesukkel nie, daar was ’n paar wedstryde waar hulle met 10 of 15 minute oor stewig in die wedloop was. Hul spelers sou baie geleer het in daardie kompetisie en hulle is ’n baie trotse span in Kimberley. Hulle gaan ons beslis vir 80 minute toets.”

Die Leeus het Donderdag 11 plaasvervangers aangekondig, om voorsiening te maak vir moontlike skete voor die wedstryd. Jannie du Plessis, Wilhelm van der Sluys en Manuel Rass reis saam vir daardie gebeurlikheid.

Leeus: EW Viljoen, Stean Pienaar, Wandisile Simelane, Burger Odendaal, Courtnall Skosan, Elton Jantjies (k), Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Willem Alberts, Ruan Dreyer, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Wiehahn Herbst, Reinhard Nothnagel, Roelof Smit, Ross Cronjé, Dan Kriel, Tiaan Swanepoel.

Meer oor:  Kimberley  |  Leeus  |  Jaco Kriel  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.