Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jacobs laat Ali en Dobson kopkrap

John Dobson mag natuurlik nie openhartig wees oor wat hy dink van skeidsregters se vertonings wanneer sy WP-span speel nie, maar hy het nietemin Woensdagaand laat deurskemer dat hy nie heeltemal met al AJ Jacobs se beslissings op Ellispark saamgestem het nie.

Evan Roos se tien minute in die koelkas het die WP duur te staan gekom, maar hy het met sy terugkeer hard gewerk om daarvoor te probeer vergoed. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie het sy tweede wedstryd van die Curriebekerreeks Woensdag teen die Leeus met 38-32 verloor. Dit was nadat die 22 onbeantwoorde punte wat hulle laat in die wedstryd teen 13 Leeus aangeteken het nie genoeg was om die bordjies te verhang nie.

Die Kapenaars was ná ’n uur met 38-10 agter nadat hulle self 21 punte afgestaan het terwyl die flank Evan Roos in die koelkas was. Maar hulle was voor Roos se oortreding reeds op die agtervoet in die skrums en wanneer die Leeus gerolmaal het.

Jacobs was in die eerste paar skrums veral hard op die loskopstut Ali Vermaak, wat telkens dronkgeslaan oor die beslissings gelyk het.

Dobson was op dieselfde bladsy as Vermaak.

“In die eerste helfte het ek gevoel daar was kere wat ons meer beloning moes kry as wat ons het. Die beslissings was eerder teen ons,” het Dobson Woensdagaand gesê.

“Ek het gedink Ali Vermaak was baie goed aan die loskopkant, maar JJ Kotze se knieë was ná tien minute gaar. Jason Alexander het van die bank af gekom, maar hy het die meeste van sy rugby vir UWK as ’n flank gespeel, so dit het ons skrumvermoë geaffekteer. Terselfdertyd het ek gedink die Leeus het regtig goed geskrum.”

Die Leeus het ses drieë in die eerste 50 minute gaan druk, teenoor een vir die WP, maar ná die laaste daarvan (’n onderskepdrie deur die blitsige Rabz Maxwane) het die Kapenaars beheer geneem en tien minute lank in die tuisspan se 22 gaan kamp opslaan.

Toe ons met 38-10 agter was, ná die onderskepdrie, moes die Leeus ons begrawe het.

Hulle kon egter geen punte aanteken nie, en het eers vlamgevat nadat die Leeus Jaco Visagie en Ruben Schoeman in onderskeidelik die 68ste en 69ste minute geelkaarte vir ongeoorloofde spel gekry het.

“Toe ons met 38-10 agter was, ná die onderskepdrie, moes die Leeus ons begrawe het. Ek het gevoel ons sal op een of ander manier terug in die wedstryd kom, maar selfs toe het ons harde werk daarvan gemaak,” het Dobson gesê.

“Ek moet seker sê ons het karakter gewys met hoe ons teruggeveg het, maar ek het altyd geweet hierdie span het karakter.”

Die een ding waaroor Dobson bly was, is dat sy span vir eers die laaste van die Hoëveld gesien het. Hulle het Saterdag op Loftus Versfeld met die Bulle afgereken.

“Ons het nou op Loftus en Ellispark gespeel en dit is nou agter die rug. Ek dink die meeste mense sal saamstem dat dit twee van die moeilikste stadions vir wegwedstryde is. Ons het sewe punte uit dié twee wedstryde, wat min of meer soveel is as wat ons kon verwag as jy al die beserings en spelers wat nie beskikbaar was nie, in ag neem.

“Ons is op die oomblik op ons laagste punt wat dit betref, maar ek dink die ergste is agter ons. Daar is nog twee wedstryde oor voordat ons in die bioborrel (vir hul wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus op 17 Julie) gaan, en ons het ouens soos JD Schickerling, Salmaan Moerat, Edwill van der Merwe en Leolin Zas, wat almal in die volgende week kan terugkeer,” het Dobson gesê.

Die WP kan nou uitsien na twee tuiswedstryde: aanstaande Woensdag teen die Haaie en vyf dae later teen Griekwas.

Meer oor:  Skeidsregter  |  Westelike Provinsie  |  John Dobson  |  Leeus  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.