Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jacques kies Bulle eerder as Haaie

Jake White is besig om ’n monster-agttal in Pretoria te bou nadat hy die week daarin kon slaag om Jacques du Plessis te oortuig om ’n Bul eerder as ’n Haai te word.

Jacques du Plessis in aksie vir Montpellier teen Northampton Saints.

Die 27-jarige veelsydige voorspeler sal deur sy Franse klubspan, Montpellier, vrygestel word om minstens voor Augustus vanjaar terug in Pretoria te wees.

White het met die kontraktering van Du Plessis, en die 29-jarige Springbok-losvoorspeler Marcell Coetzee, sy span in ’n goeie posisie geplaas om later vanjaar sy Curriebeker-kroon met vertroue te verdedig.

Albei is ervare spelers wat bekend is om hul reuse-werkverrigting. Albei omhels ook die fisiekheid van rugby.

Du Plessis maak geen geheim daarvan nie dat een van die redes vir sy terugkeer is om vir hom hier ’n plek in die Bok-span oop te speel nadat hy al van 2015 ’n staatmaker vir Montpellier is.

Voor dit het hy tussen 2013 en 2015 by die Bulle sy merk op senior vlak gemaak.

Coetzee herstel tans van ’n dyspierbesering en kan voor Du Plessis op Lofus Versfeld begin sweet. Hy kan deur sy Ierse klubspan Ulster vrygestel word om voor 1 Mei sy rehabilitasie by die Bulle te doen.

White versterk egter nie net sy voorspelers nie, maar het ook vroeër Du Plessis se Franse klubmaat Johan Goosen gewerf. Die 28-jarige Goosen se kontrak eindig in Junie met Montpellier, waarna hy ’n Bul word.

Die Bulle stel ook in die Cheetahs se Oupa Mohoje as ’n plaasvervanger vir Tim Agaba belang.

Oupa Mohoje Foto: Gallo Images

Die 30-jarige Mohoje het egter ’n klousule in sy kontrak dat die Cheetahs dit met 12 maande kan verleng.

Rapport verneem die Cheetahs het die opsie uitgeoefen en hom ’n nuwe kontrak aangebied.

Soos sake tans staan, lyk dit nie of hy voor 1 Junie 2022 na die Bulle kan gaan nie.

Ruan Steenkamp, een van die Bulle se losvoorspelers, is op pad na die Griekwas.

Hy en die Bulle het ooreengekom om sy kontrak kort te knip.

Dié 28-jarige oudleerling van die Hoërskool Monument was van 2015 vir die Bulle beskikbaar, maar kan met ’n skuif na Kimberley ’n eerstekeuse-speler word. Hy word selfs in sekere kringe as ’n aanspraakmaker op die Griekwas se kapteinskap beskou.

Steenkamp kan saam met Gideon van der Merwe ’n gedugte flankpaar vir die Kimberliete word.

Die Bulle stel intussen in nog ’n Griekwa-speler belang nadat hulle vroeër die skrumskakel Zak Burger gekontrakteer het. Die 26-jarige heelagter James Verity-Amm is nou in White-hulle se visier.

Verity-Amm speel van verlede jaar af vir Griekwas. Voor dit het hy spanne soos die Western Force, Perth Spirit en Brumbies verteenwoordig. Dié oudleerling van die Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes het die WP destyds op o.19- en o.21-vlak verteenwoordig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.