Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jaer jaag Spele-droom saam met Blitse na

Die Cheetahs se Malcolm Jaer droom daarvan om vir die Blitsbokke by die Olimpiese Spele te speel en daarom het hy onlangs by die Suid-Afrikaanse Sewesakademie in Stellenbosch aangesluit.

Jaer (24), ’n veelsydige agterspeler in vyftienman-rugby, sal hom weer vir 2020 se Curriebeker-seisoen in Bloemfontein aanmeld. Maar nou is sy fokus op sewes, om vir Suid-Afrika in 2020 in Tokio uit te draf.

Malcolm Jaer verlede seisoen in aksie vir die Cheetahs in die Pro14-reeks. Foto: Getty Images

Hy is geen vreemdeling aan sewes nie, aangesien hy in 2016 die Akademiespan in Doebai verteenwoordig het.

Tog weet hy die pad na die Blitsbok-span is nie met rose besaai nie.

“Toe ek in 2016 hier was, was dit altyd ’n droom om aan die Olimpiese Spele deel te neem. Dit is steeds een van my drome en dit is ook hoekom ek nou terug is,” sê Jaer, ’n boorling van Uitenhage in die Oos-Kaap.

“Ek dink dit sal vir enige speler wat van vyftiens na sewes toe kom ’n aanpassing wees. By sewes is daar baie meer ruimte en sekere stelsels wat jy moet volg.

“Of dit op verdediging of op aanval is – sewes se stelsel is baie anders as vyftienman-rugby s’n. So dit is maar altyd effens moeilik om by sewes aan te pas en dit neem ’n bietjie tyd. Uiteindelik sal ’n mens wel aanpas,” sê Jaer.

Ek dink wat ek moet doen om coach Neil te beïndruk, is om altyd die span eerste te stel en binne die stelsel te werk.
Malcolm Jaer

Hy is filosofies oor wat hom te doen staan om Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, te beïndruk. In sy kas hang reeds ’n baadjie van die Suid-Afrikaanse Skolespan en Junior Springbokke. Hoe gaan hy een van die Blitsbokke daarby voeg?

“Ek dink wat ek moet doen om coach Neil te beïndruk, is om altyd die span eerste te stel en binne die stelsel te werk. Ook om die Blitsbokke se beginsels uit te leef en altyd my beste te gee, of ek nou op die veld of in die gimnasium is.

“Ek wil hard werk en wys dat ek hier wil wees,” sê Jaer, wat vertel dat Cecil Afrika, Wêreldrugby se Sewesspeler van die Jaar in 2011, een van sy seweshelde is.

“Hy kom ook van dieselfde plek as ek, die Oos-Kaap. So ek het nog altyd na hom opgekyk. Hy is al jare ’n sewesspeler – hy weet al wat om te doen.

“Iemand soos Cecil sal nie net verby jou loop as jy met iets sukkel nie, hy sal altyd daar wees om jou ’n beter mens en speler te maak,” sê Jaer.

* Die kniebesering wat Muller du Plessis in Oktober tydens ’n toernooi in Manchester opgedoen het, gaan hom uit die eerste toernooi van die nuwe seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks in Desember in Doebai hou.

Meer oor:  Cecil Afrika  |  Malcolm Jaer  |  Muller Du Plessis  |  Cheetahs  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.