Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake aan Bulle: Voorwaarts, julle!
Nizaam Carr, agtsteman van die Ligbloues, voer Saterdag weer die span aan wanneer hulle op Loftus Versfeld teen die Leeus in die Reënboogbeker-kompetisie speel. Foto: Gallo Images

Dit is een ding om ’n goeie oesjaar te hê, maar ’n heel ander storie om die volgende seisoen weer so te maak.

Vir die Bulle, wat Saterdagaand op Loftus Versfeld teen die Leeus te staan kom, is die Reënboogbeker-reeks die volgende stuk van die legkaart.

“Ons wil aanhou wen. Ons het verlede jaar goed gevaar en ons wil daardie momentum behou.

Ons wil aanhou wen. Ons het verlede jaar goed gevaar en ons wil daardie momentum behou.
Jake White

“Vir ons gaan dit daaroor om te groei en beter te raak as ’n groep,” het Jake White, die Bulle-afrigter, Vrydag gesê.

Die voormalige Springbok-afrigter sê hy het ’n “atletiese span” vir die Jukskei-tweestryd gekies.

Voorlangs is die Bulle sonder die immergroen kryger Duane Vermeulen en die ervare Trevor Nyakane.

“Daar is ’n paar spelers wat nie beskikbaar is nie. Duane en Trevor moet een week af kry nadat hulle die (Springbokke se) belyningskamp bygewoon het.

“Dit is ’n atletiese span. Ek hoop die weer gaan saamspeel en dat dit droog sal wees. Ek glo dit is ’n span wat, as ons speel soos ons kan, ’n blink vertoning kan lewer.”

James Verity-Amm in aksie vir die Western Force teen die Haaie tydens ’n Superrugby-kragmeting in 2017 in Durban. Foto: Gallo Images

Kortom: Die Bulle wil hardloop teen die Leeus en dit is iets wat die nuweling-heelagter, James Verity-Amm, sal verwelkom.

Die kopie van Verity-Amm, wat verlede seisoen op Griekwas se boeke was, is ’n vreemde een.

Hy is 26 en was in die verlede nooit by een van die land se Superrugby-franchises in die prentjie nie.

Tog glo White dié boorling van Kroonstad wat al Doer Onder by die Brumbies en die Force gaan draai het, bied die agterlyn van die Bulle “iets anders”.

“Ek sal hom graag wil sien in die agterlyn wat ons gekies het. Chris Smith is ’n goeie aanvallende losskakel en Cornal (Hendricks) het regtig goed gespeel.

“Hy het al oor die wêreld heen gespeel en hy bied ons agterlyn iets anders, en daarmee vat ek niks weg van die bydrae wat David Kriel verlede jaar gelewer het nie.”

Hy het al oor die wêreld heen gespeel en hy bied ons agterlyn iets anders, en daarmee vat ek niks weg van die bydrae wat David Kriel verlede jaar gelewer het nie.
Jake White

Met Vermeulen wat nie oorweeg is nie, sal Nizaam Carr weer die span lei.

Die slot Walt Steenkamp maak ’n welkome terugkeer in die 23-tal nadat ’n hartkwaal aan die begin van die jaar by hom gediagnoseer is.

Hy het sedertdien die mediese jawoord gekry om sy loopbaan te hervat.

White sê hulle gaan nie die fout begaan om die Leeus te onderskat nie.

“Dit is interessant, dit is ’n baie jong span. Hulle het regdeur die span ’n paar senior staatmakers verloor.

“Jaco Visagie, Marvin Orie, Willem Alberts, Elton Jantjies en Burger Odendaal was almal seniors in die span en dit is ideaal nie.

“Ek weet ook wanneer jy jong ouens ’n kans gee, is hulle ywerig om ’n punt te bewys en ons weet hulle sal goed voorbereid wees.”

Die spanne is:

Bulle: James Verity-Amm, Madosh Tambwe, Marco Jansen van Vuren, Cornal Hendricks, Stravino Jacobs, Chris Smith, Embrose Papier, Nizaam Carr (k), Elrigh Louw, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Janko Swanepoel, Mornay Smith, Johan Grobbelaar, Gerhard Steenekamp. PLAASVERVANGERS: Joe van Zyl, Lizo Gqoboka, Jacques van Rooyen, Walt Steenkamp, Arno Botha, Zak Burger, Morné Steyn, David Kriel.

Leeus: Tiaan Swanepoel, Stean Pienaar, Wandisile Simelane, Dan Kriel (k), Courtnall Skosan, Fred Zeilinga, André Warner, Francke Horn, Vincent Tshituka, MJ Pelser, Wilhelm van der Sluys, Ruben Schoeman, Jannie du Plessis, PJ Botha, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Morné Brandon, Nathan McBeth, Carlu Sadie, Reinhard Nothnagel, Emmanuel Tshituka, Sibusiso Sangweni, Morné van den Berg, EW Viljoen.

Afskop: 19:00.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge.

Assistent-skeidsregters: Griffin Colby, Paul Mente.

TV-skeidsregter: Marius van der Westhuizen.

TV: SuperSport Rugby (211) en Grandstand (201).


Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Jake White  |  James Verity-Amm  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Reenboogbeker-Reeks  |  Afrigter  |  Rugby  |  Leeus  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.