Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Planne op Loftus: Jake bou ’n Bul-V8
Bongi Mbonambi. Foto: Gallo Images

Die Bulle se nuwe direkteur van rugby, Jake White, is nog nie klaar met sy inkopies nie, en dit blyk dat die Wêreldbeker-wenner Bongi Mbonambi ’n oorblywende naam op sy kooplys is.

Mbonambi het tans ’n kontrak met die Stormers en WP, maar volgens Rapport se inligting het hy ’n klousule in sy kontrak wat hom toelaat om aan die einde van die Superrugby-reeks uit sy kontrak te kom en dat die Bok-haker al voelers na die Bulle uitgesteek het om ’n terugkeer Loftus Versfeld toe te maak.

White het aan Rapport bevestig daar is belangstelling van Mbonambi se kant af. Ook dat die Bulle belang stel in sy dienste. Maar hulle vereis ook dat die haker eers die klousule in sy kontrak uitklaar voordat enige onderhandelinge kan plaasvind.

“Hy is ’n Wêreldbeker-wenner, en ons sal altyd in so ’n speler belang stel,” het White aan Rapport gesê. White voeg dan by: “Maar hy is tans in ’n kontrak.”

As Mbonambi uit sy kontrak kan kom, sal hy ’n massiewe voorry vir White volmaak, met die Bokke Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka as stutte. Dit sal ook ’n groot tree wees in sy strewe om ’n bul van ’n agttal te skep as die basis vir sy span se wenresep.

Rosko Specman
Burger Odendaal

Die Bulle het wel bevestig dat die Springbok Travis Ismaiel, wat voorheen Loftus vir Harlequins verlaat het, op pad terug Pretoria toe is en vir die Bulle geteken het.

White erken hy sit tans in ’n moeilike situasie omdat hy net 45 spelers mag kontrakteer. Dit sal maak dat sekere spelers wat tans ’n kontrak met die Bulle het toegelaat word om met ander unies te onderhandel.

Die Leeus onderhandel tans met die Bulle se kaptein, Burger Odendaal, en die haker Jaco Vi­sagie. Die heelagter Divan Rossouw is ook besig om te praat oor ’n skuif oor die Jukskei.

Rapport verneem die Leeus is in die mark vir dié spelers nadat hulle spelers soos Shaun Reynolds en Tyrone Green met die 21-dag-klousule verloor het. Hulle versoek om met die spelers te onderhandel, is ook toegestaan.

Dit blyk ook dat Rosko Specman op pad uit is, en sy kontrak nie hernu sal word nie. Specman hoop om volgende jaar weer vir die Blitse in sewes te speel en hy kan selfs by die WP opeindig.

Intussen is gesprekke met die agterspelers EW Viljoen en Clinton Swart begin om hulle by die Bulle aan te sluit.

Swart het juis vir White in Japan gespeel terwyl Viljoen as ’n aanwins op senter en heelagter gesien word.

Die Springbok-slot Jason Jen­kins kan ook vir die Bulle uitdraf, maar net op ’n korttermynbasis.

“Ons het met sy klub onderhandel en hulle het bevestig hy kan by ons speel as dit nie in dieselfde tyd as die Japanse liga val nie. Sy afrigter wil hê hy moet eerder speel as om niks te doen nie, maar sodra die Japanse liga hervat, sal hy na Japan toe terugkeer.”

Die Bulle onderhandel ook tans met die WP-haker Schalk Erasmus. Hy is ’n oud-Affie wat verlede jaar teen Griekwas sy buiging vir die WP gemaak het en ook vir SA Skole en die SA o.20-span gespeel het.

Die vleuel Cornal Hendricks se speeldae by Loftus sal daarvan afhang of White vir hom plek het in die toegelate kwota van 45 spelers.

Meer oor:  Jake White  |  Bongi Mbonambi  |  Rugby  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.