Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake: Bulle moet besef hóé groot eer dit is

Hy het al die Wêreldbeker gewen en kampioenspanne in Frankryk en Japan afgerig.

Die Brumbies het ook onder sy breierskap in die Superrugby-eindstryd gespeel.

Ruan Nortjé (middel met die kopband) en Morné Steyn (nr. 10) vier Saterdag die jong Bulle-vleuel Stravino Jacobs (regs) se eerste van twee drieë teen die Leeus op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Dit is daarom moeilik om te glo dat Jake White voor die 2020-seisoen nog nooit die hoofafrigter van ’n Curriebeker-span was nie.

Hy wil juis sy ervarings regoor die wêreld gebruik om sy spelers in die opbou tot Saterdag se Curriebeker-eindstryd teen die Haaie op Loftus Versfeld te laat besef hóé ’n groot eer dit is, sê White.

“Dit is een van die oudste bekers in wêreldrugby en dit is ’n kompetisie wat my nog altyd baie na aan die hart gelê het.”

Die plaaslike seisoen sal, veral na die Springbokke se euforie in 2019, nie lank onthou word nie.

Dit sal wel by Loftus opgeteken word as ’n jaar oplewing ná ’n hele paar mislukte oesjare.

White se koms is verlede jaar nie deur almal met die grootste entoesiasme begroet nie.

“Hy is omstrede en iemand wat ’n span kan fix, maar gewoonlik kort daarna groet, het die “kenners” gewaarsku.

Die Bulle het verlede jaar die Superreeks Unlocked gewen en daar word ook nou vir die Curriebeker plek gemaak in Loftus se trofeëkas.

Daar is immers geen beter manier om jou kritici stil te speel as om bekers te wen nie.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle. Foto: Gallo Images

White maan die eindstryd sal ander uitdagings bring.

“Ons moet reg wees daarvoor. Ons het ’n groot kans om tuis te speel en ons moet seker maak ons is sielkundig reg ingestel.

“Ons het al oortuigend teen hulle (die Haaie) gewen die seisoen en dit sal ons selfvertroue gee.

“Die feit dat ons al die spanne in die land geklop het die afgelope tyd, is ’n goeie posisie om in te wees.”

Die Haaie sal met ’n sielkundige letsel in Pretoria aankom.

Hulle het in hul vorige twee besoeke in die Jakarandastad in albei wedstryde meer as 40 punte afgestaan.

• Die Ligbloues het laas in 2009 uit die Curriebeker gedrink en dit sal Saterdag die eerste eindstryd sedert 2003 tussen dié twee spanne op Loftus wees.

Sedert die eertydse Natal-span van 1990 daardie jaar een van die grootste opskuddings tot nog toe in die kompetisie teen Naas Botha se gedugte Ligbloues op Loftus gelewer het, het die spanne sedertdien net twee keer in die eindstryd gespeel.

Die Bulle het in 2003 met 40-19 geseëvier in Pretoria, waarna die Haaie in 2008 met 14-9 bo was in die eindstryd in Durban.

Daar sal Saterdag vir die eerste keer in die geskiedenis – weens Covid-19-protokolle – geen toeskouers by ’n Curriebeker-eindstryd wees nie.

Meer oor:  Loftus Vers­Feld  |  Haaie  |  Jake White  |  Bulle  |  Pretoria  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.