Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake: ‘Daar broei g’n onmin by Loftus’

Hy raak soms mismoedig wanneer hy in die media lees dat hy te hard op sy spelers is en sy menseverhoudings bevraagteken word, sê Jake White, die Bulle se direkteur van rugby.

Jake White hou ’n spanpraatjie toe hy destyds die Franse span Montpellier afgerig het. Foto: Getty Images

“Daardie wanopvattings het hul oorsprong by spelers wat nie hou van dít wat ek vir hulle sê nie.

“Jy moet baie keer moeilike besluite neem, wat nodig is om te wen en dit is nie altyd lekker om te hoor nie,” het White in ’n video-onderhoud ten bate van die Chris Burger/Petro Jackson-fonds gesê.

Die voormalige Springbok-afrigter en Wêreldbeker-wenner is in Maart in sy nuwe pos aangestel en hy het onlangs toegegee daar is onsekerheid en angstigheid in Bulle-geledere.

White, ook die span se nuwe hoofafrigter, sê dit beteken nie dat daar onmin aan die broei is by Loftus Versfeld nie.

“Ek het oor die jare geleer om liewer eerlik te wees met spelers. Ek is destyds gekritiseer toe ek Monty (Percy Montgomery) en Os (du Randt) gekies het vir die Bokke. Ook omdat ek John Smit my kaptein gemaak het toe baie mense gesê het hy is nie die beste haker in die land nie.

“Ek het geweet as jy lojaal is teenoor daardie spelers, gaan hulle jou daarvoor beloon. Dit is nie iets waaroor ek bereid is om te onderhandel nie.”

Hy benadruk hy stel “vertroue en goeie verhoudings” met sy spelers voorop.

As jy my steun het, is dit onvoorwaardelik en gaan ek by jou staan deur die moeilike tye.

White meen die tyd van inperking weens die koronavirus was in talle opsigte ’n bedekte seën vir die Bulle.

“Die Bulle het nie goed gevaar nie en dit was tyd vir verandering. Ons kry nou tyd om te reboot en van die veld af aandag te gee aan die leemtes. Dit gesê, dit raak ’n frustrasie. Ek wil nou op die veld kom en begin afrig. Ek is aangestel letterlik toe die inperkingstyd begin het en het my eerste ses, sewe weke as nuwe Bulle-afrigter in Hermanus gesit.”

Wat is sy doelwit in sy eerste seisoen in Pretoria?

“Om te wen. Ek gaan nie elke dag werk toe en bring etlike ure op die rugbyveld deur om tweede te kom nie.

“Ek het nog altyd by spanne aangesluit waar ek gedink het ek kan waarde toevoeg. Dit was ook by die Brumbies, Montpellier en Toyota Verblitz die geval.

“Ek het die bykomende motivering dat een van die aandeelhouers (in die Blou Bulle Maatskappy), Johann Rupert, ’n baie goeie vriend van my is.

“Dit is ’n wonderlike tyd om by die Bulle te begin. Dit is ’n span met ’n ryke geskiedenis en tradisie wat vir te lank onderpresteerders was. Dit is ’n uitdaging wat my aandryf.”

Hy het sedert sy koms verskeie Bokke soos Marcel van der Merwe, Arno Botha, Nizaam Carr en Gio Aplon van oorsee teruggelok om vir die Bulle te kom speel.

White is gevra wat sy “droom-aanwins” sou wees.

“Schalk Burger, maar hy het ongelukkig uitgetree. Wie weet, dalk kan hy ’n terugkeer maak.”

Schalk Burger

Meer oor:  Jake White  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.