Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake White-doepa les Loftus se dors

Die Superreeks-titel is die Bulle s’n en nou wil hulle dit twee uit twee in die Curriebekerkompetisie maak.

Dit was uit die staanspoor die doelwit om albei kompetisies vanjaar te wen, het Jake White, hoofafrigter van die Bulle, gesê nadat sy span gistermiddag op Loftus Versfeld teen die Pumas seker gemaak het die Superreeks Unlocked-trofee kry in die Jakarandastad staanplek.

Oplaas, vonkelwyn op Loftus! Die Bulle vier hul Superrugby Unlocked-trofee.Foto’s: Gallo

“Dit is fantasties, nie net vir my nie, maar vir die hele unie. Ons het die afgelope tien jaar nie een senior kompetisie gewen nie.”

Die Bulle se Superrugby-sukses is hoofsaaklik te danke aan White wat eerstens met sy kontraktering raakgevat het.

Hy het ’n bul-agttal bymekaar gemaak wat Loftus Versfeld weer ’n slagpale vir besoekende spanne maak. White kontrakteer net Springbokke of toekomstige Bokke.

Bokke soos Duane Vermeulen, Nizaam Carr, Arno Botha, Marco van Staden en Trevor Nyakane, asook opkomende sterre soos Elrigh Louw, verseker dat die Bulle bitter selde in trurat sal wees.

White met die trofee.

Agterlangs was die breier nie bang om te eksperimenteer nie. Hy is besig om van Cornal Hendricks ’n binnesenter te maak – iets wat baie wenkbroue laat lig het. Maar Hendricks het reeds tekens gewys dat hy kan kook in die middelveld.

Groentjies soos David Kriel, Stedman Gans, Kurt-Lee Arendse en Chris Smith het ook die vertroue beloon wat White in hulle geplaas het. Ivan van Zyl gedy onder die leierskap van Fourie du Preez.

White se aanstellings in sy bestuurspan met lede soos onder meer die fiksheidsghoeroe André Volsteedt en die kopdokter Henning Gericke was ewe in die kol. Veral Gericke het ’n belangrike rol gespeel om die geloof in die Bul-trui te herstel.

Soos in die geval met die Bokke se sukses verlede jaar in Japan, toe daar ’n goeie verhouding tussen Rassie Erasmus, sy uitvoerende hoof, Jurie Roux, en die president van SA Rugby, Mark Alexander, bestaan het, trek White, sy uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, en die president van die Blou Bulle, Willem Strauss, in dieselfde rigting.

Wen raak ’n gewoonte, en ons moet nou hierop voortbou.
Jake White

Hulle praat uit een mond wat noodsaaklik vir sukses by ’n span is.

Nog ’n belangrike rede vir die verowering van die Superrugby-titel is dat White nie op Loftus ingestap het en die wiel probeer herontwerp het nie. Hy het by die Blou Bulle se DNS en tradisies gehou, dit versterk en uitgebou.

White se keuse van sy kaptein, Vermeulen, en die verhouding tussen hulle, was nog ’n uitstaande kenmerk vir die sukses wat die Bulle vanjaar behaal het.

Ivan van Zyl druk sy drie gister op Loftus.

White sê hulle was in die 25ste en laaste jaar van Superrugby vasberade om die enigste Suid-Afrikaanse franchise te bly wat dié kompetisie kon wen.

“Ons is bewus daarvan dat dit nie die volwaardige Superreeks was nie, maar steeds, niemand sou ons ses, sewe maande gelede ’n kans gegee het om die trofee te wen nie.

“Daar is baie spelers by die Bulle wat lank gewag het om iets te wen en dit sal hulle baie selfvertroue gee.

“Wen raak ’n gewoonte, en ons moet nou hierop voortbou,” sê White.

Dit is dalk nog te vroeg om te praat van die slapende reus van Suid-Afrikaanse rugby wat aan die ontwaak is, soos wat White die afgelope week na sy span verwys het.

Daar sal ook in die 2020-jaarboek ’n voetnota wees oor die koronavirus wat die geloofwaardigheid van die plaaslike Superreeks in twyfel gebring het, aangesien verskeie wedstryde weens positiewe toetse uitgestel is. As die Stormers en Haaie se wedstryd op Kingspark byvoorbeeld wel vandeesweek kon plaasvind, sou daar dalk meer druk op die Bulle gewees het om gister se wedstryd te wen.

Maar laat dit niks wegneem van die Bulle nie, wat duidelik die keur in die Unlocked-kompetisie was.

Gister het hulle dit in die eerste helfte bewys toe hulle ’n voorsprong van 21-0 opgestapel het. Hulle het oorheers, maar was teleurstellend in die tweede helfte.

Nie dat dít in die groter prentjie enigsins saakmaak nie.

Die oplewing by Loftus sal eers volgende jaar werklik in konteks geplaas kan word wanneer daar teen die voorste klubspanne van Ierland, Skotland en Wallis gespeel word. Die positiewe tekens is wel daar.

En vir eers is dit vir ondersteuners in dié geweste aangenaam om vir die eerste keer in ’n lang ruk ’n glasie te klink op die Bulle.

Puntemakers:

Bulle 21 (21): Drieë: Kurt-Lee Arendse, Chris Smith, Ivan van Zyl. Doelskoppe: Smith (3).

Pumas 5 (0): Drie: HP van Schoor.

Meer oor:  Pumas  |  Superrugby Unlocked  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.