Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake en Duane sluit hulle aan by Bulle-grotes

Daar was al in die verlede gedugte afrigter-kaptein-kombinasies by Loftus Versfeld.

Dink maar aan oom Buurman van Zyl en Thys Lourens en later ook Naas Botha. Meer onlangs was dit Heyneke Meyer en Victor Matfield.

Jake White en Duane Vermeulen se name sal ná Saterdag se Curriebeker-glorie by dié uitgelese groep gevoeg word.

Duane Vermeulen, die Bulle-kaptein, wen Saterdag ’n hoë bal voor ’n aanstormende Sbu Nkosi, vleuel van die Haaie. Foto: Gallo Images

White het verlede jaar toe hy as die Bulle se direkteur van rugby aangestel is, gesê hy kom Loftus toe om te wen.

En dít is presies wat hy gedoen het – die plaaslike Superreeks in November en nou ook die Curriebeker.

Hy is verlede jaar in sommige kringe as ’n omstrede aanstelling beskryf.

White is destyds by die Brumbies en die Haaie skielik en onder ’n wolk vort en dit gaan die Bulle oorkom, is daar voorspel.

Die Bulle-breier het Saterdagaand gesê hy het geen planne om dié unie te verlaat nie.

“Billik of onbillik, die mense kan sê en skryf wat hulle wil. Ek het ’n kontrak met die Bulle en werk vir ’n ongelooflike organisasie.

“Die aandeelhouers wil wen, ek het ’n baie goeie uitvoerende hoof (Edgar Rathbone) en hier is ongelooflike jong spelers.

“As mense sulke stellings wil maak, moet hulle dit doen,” het hy gesê.

Billik of onbillik, die mense kan sê en skryf wat hulle wil.
Jake White

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU), het White en Vermeulen bedank vir ’n goue 2020-seisoen.

“Jake het die kultuur en DNS van die Bulle omarm en die respek wat hy vir die geskiedenis van die Blou Bulle het, is merkwaardig en dra by tot dit wat hy al in die spel bereik het,” sê Strauss.

Theuns Stofberg was lank die enigste speler in die geskiedenis wat die Curriebeker by drie unies (Vrystaat, Noord-Transvaal en Westelike Provinsie) verower het.

Duane Vermeulen hou die Curriebeker omhoog nadat die Bulle die Haaie op Loftus Versfeld in die eindstryd met 26-19 geklop het. Foto: Gallo Images

Vermeulen het Saterdag by hom aangesluit. Hy het die Cheetahs in 2007 gehelp om die beker te wen en was in 2012 ’n lid van die WP-kampioenspan.

White het Vermeulen, wat die Speler van die Wedstryd was in 2019 se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland, ’n klop op die skouer gegee en gesê hy was regdeur ’n rots in die span se Curriebeker-veldtog.

Daar was Saterdagaand, weens die Covid-19-aandklokreël en drankverbod, geen groot partytjie by Loftus nie.

White sê hulle sal die Curriebeker dalk later op ’n meer gepaste wyse vier.

“Die werklikheid is dat daar geen toeskouers was nie, ’n eerste helfte wat deur donderweer onderbreek is en toe ook bykomende speeltyd.

“Jy moet aanpas. Dit het nooit vir ons daaroor gegaan om fees te vier en ’n groot partytjie te hou nie. Ons het ’n taak gehad om te verrig.

“Wie weet, dalk eendag wanneer Covid-19 weg is, is daar ’n kans om bymekaar te kom en dit te doen. Ons sal dit dalk dan nog meer geniet.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.