Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake gaan haal Nollis uit rugbywoestyn

So, hoeveel junior bekers wil jy nog wen?

Dít was Jake White se vraag aan Nollis Marais voordat die oud-Springbok-afrigter hom onlangs meegedeel het hy het groter planne vir hom by die Bulle.

Nollis Marais word verlede seisoen op die skouers gedra nadat die Blou Bulle se o.21-span sy eweknie van die Westelike Provinsie in die eindstryd van die nasionale reeks verslaan het. Foto: Gallo Images

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het aangekondig dat Marais as ’n afbreekpunt-spesialis in White se afrigtingkorps aangestel is.

Hy is ook voortaan die Bulle se rugby-koördineerder. Kortom, White se regterhand by Loftus Versfeld.

“Ek is nog nie presies seker wat dit alles behels nie. Dit klink of dit omtrent alles is,” het Marais tong-in-die-kies oor die aanstelling gesê.

Die voormalige hoofbreier van die Bulle sê hy was verras dat White hom betrek het.

“Ons het ná sy aanstelling (as die Bulle se direkteur van rugby) baie gesels, maar ek het gedink ek sal by die juniors bly.

“Veral nadat ons verlede seisoen albei nasionale bekers (o.19 en o.21) gewen het. Ek is egter baie dankbaar om weer ’n geleentheid te kry.”

Vir hom was ek nie die hoofafrigter wat afgedank is nie, maar iemand wat die Bulle iets kon bied.

Dit is ’n merkwaardige terugkeer ná die groot afjak wat Marais in 2017 gekry het.

Die wyse gryses by Loftus het daardie seisoen besluit om Marais halfpad deur die Curriebeker-reeks die trekpas te gee en hom met John Mitchell te vervang.

Dít nadat dieselfde besluitnemers hom die vorige seisoen by meer as een geleentheid die versekering gegee het dat hy hulle steun tot in 2019 het.

Mitchell het daarna verkondig Marais is duidelik te vroeg in die pos aan die uitdagings van Superrugby blootgestel.

Hallo, Jake! Jake White het Nollis Marais, voormalige hoofafrigter van die Bulle, in sy afrigtingspan ontplooi. Foto: Gallo Images

Om alles te kroon, is Marais gevra om die Bulle se o.19-span af te rig.

“Ek sukkel nou nog om dit agter my te kry en dit is iets waarmee ek steeds worstel.

“Glo my, dit was ’n karaktertoets soos min. Deur dit alles het ek nie my liefde en passie vir die spel verloor nie.

“Dit was eintlik ’n bedekte seën dat ek terug is na die juniors toe. Dit het my weer ’n nuwe lus vir rugby gegee.”

Marais het ook die grootste lof vir White se voorganger, Alan Zondagh, wat aan die begin van die jaar as direkteur van rugby bedank het.

“Alan het my baie gehelp en die menslike wyse waarop hy my betrek en hanteer het, het vir my baie beteken.

“Vir hom was ek nie die hoofafrigter wat afgedank is nie, maar iemand wat die Bulle iets kon bied.”

Die vooruitsig om weer op Superrugby-vlak betrokke te wees en dié nuwe pad saam met White te stap, is ’n lekker nuwe hoofstuk in sy loopbaan, sê Marais.

“Ek sien baie uit. Jake het so baie kennis en hy het wêreldwyd so baie bereik, in Frankryk, Japan en ook destyds by die Brumbies.

“Hy gaan ons op ons tone hou, maar hy is iemand wat almal se menings na waarde ag.”

Marais is ewe opgewonde om op die Bulle se deugde by die afbreekpunte te fokus.

“Ek dink dit is iets wat agterweë gelaat word. Sowat 80% van die tyd word bestee aan dít wat 20% van die spel uitmaak, soos die vaste fasette en afskoppe.

“Die afbreekpunte is sekerlik die belangrikste afdeling en is een van die groot redes waarom die All Blacks so gedug is.”

Meer oor:  Nollis Marais  |  Jake White  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.