Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake hark twee legendes van die Leeus nader

Twee voormalige Springbokke van die Leeus, Ruan Combrinck en Lionel Mapoe, gaan vir die Bulle uitdraf.

Ruan Combrinck Foto: Deaan Vivier

Jake White, die Bulle se direkteur van rugby, het dié twee oud-Bokke vir ’n jaar as werknemers by Loftus Versfeld vasgemaak om hul diepte te versterk met die oog op die nuwe kompetisie wat deels in die Noordelike Halfrond gespeel sal word.

Albei spelers se loopbane het begin taan, maar White glo skynbaar daar is nog skop in albei.

Combrinck, wat ’n jaar gelede sy Franse klubspan, Stade Français, verlaat het, het sedertdien geen rugby gespeel nie. Hy het hom op sy plaas gevestig waar hy met die boerdery aangegaan het. Hy is sedert Maart 2020 ná ’n skouerbesering op sy plaas en het sedertdien nog nie weer gespeel nie.

Mapoe het tot onlangs toe nog vir die Franse derdeligaklub Nice gespeel, nadat hy ook vroeër by Stade Français was. Combrinck is 31 en Mapoe 32.

Combrinck en Mapoe sal hulle by ’n ander voormalige speler van die Leeus, Harold Vorster, by die Bulle aansluit. Vorster het eergisteraand teen die Pumas sy buiging vir die Bulle gemaak.

Vorster was in die tyd van Johan Ackermann as die Leeus se breier saam met Combrinck en Mapoe in die Leeus se suksesvolle span wat drie agtereenvolgende eindstryde gehaal het.

Lionel Mapoe Foto: Gallo Images

Mapoe en Combrinck sal hulle dié week by Loftus aanmeld, saam met die oud-Springbok Johan Goosen en die veelsydige losvoorspeler Jacques “Sheep” du Plessis. Goosen en Du Plessis was tot onlangs by Montpellier.

White het die afgelope week weer beklemtoon dat die Bulle meer diepte nodig het, veral ná hul nederlaag in Italië in die Reënboogbeker-eindstryd.

“Ons is besig om ’n paar spelers te werf,” het White Donderdag op die span se mediakonferensie gesê.

“Nadat ons gesien het watter soort teenstand ons in die Noordelike Halfrond gaan kry, besef ons ons sal ons span in sekere areas moet versterk.

“Ons is saam met Edgar (Rathbone) besig om ons span te versterk in die areas waar ek voel ons nog leemtes het.”

Die Bulle gaan ook in die toekoms die vleuel Stravino Jacobs en die heelagter David Kriel as senters aanwend.

Die Bulle het wel drie belowende jong spelers laat gaan – die SA o.20-losskakel/senter Dawid Kellerman is Japan toe, en twee jong SA o.20-senters, Marnus Potgieter (Haaie) en Jay-Cee Nel (Griekwas), het ook Loftus verlaat.

Terwyl die twee oud-Bokke lank in die tand is, voel die Bulle duidelik dat hul ervaring goud werd kan wees, veral met die Bulle se huidige ouderdomgemiddeld op 24,5 jaar in hul groep. Die gemiddelde ouderdom van spanne in die Pro14 is 26,5 en in die Franse Top14 is dit 27,5.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Jake White  |  Ruan Combrinck  |  Lionel Mapoe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.