Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake het ná rooikaart bly glo in Bul-sege

Jake White, die Bulle se afrigter, het nie vir ’n oomblik gevrees dat Saterdagaand se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Westelike Provinsie op Nuweland in ’n klugspul gaan ontaard ná Jacques van Rooyen se omstrede rooikaart vroeg in die tweede helfte nie.

Seabelo Senatla, vleuel van die WP, sukkel om Ivan van Zyl se aanslag af te weer in Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd op Nuweland. Foto: Gallo Images

Met die afstuur van hul loskopstut in die 47ste minuut was die Bulle met 8-10 agter, maar hulle was vir die res van die wedstryd die beter span en het met 22-20 gewen. Dit nadat die WP meestal op die voorvoet was voordat Van Rooyen afgestuur is vir sy skouerloop op Warrick Gelant.

“Natuurlik het ek bly glo,” het White onmiddellik ná die wedstryd op ’n vraag van Netwerk24 gesê.

“Ek het aan die spelers gesê ‘hou net aan glo’. Ek was al voorheen in so ’n situasie toe die Haaie die Crusaders met 14 spelers verslaan het.

“My boodskap was dat ons goed genoeg is en dat ons dit nie gaan vermag as ons nie glo dat ons dit kan doen nie.

“Ons het met 14 spelers daarin geslaag om op die aanval ’n man oor aan die buitekant te bewerkstellig wat fantasties is omdat ons vertroue in ons vaardighede gehad het. Ons het ’n paar puik drieë met 14 ouens gedruk.”

Die WP het kort nadat Van Rooyen afgestuur is hul voorsprong na 15-8 gerek met ’n drie deur Angelo Davids, maar dit het allermins die wind uit die Bulle se seile gehaal.

Daar was ’n Bulle-verdediger om elke draai wanneer die WP aangeval het. Hier loop Jaco Coetzee hom in Marco Jansen van Vuren vas. Foto: Gallo Images

Kurt-Lee Arendse het ná ’n goeie sarsie aanvallende spel afgerond en selfs nadat die WP teruggeslaan het met ’n puik drie deur Ernst van Rhyn, het die Pretorianers met die druk volhard om uiteindelik die wendrie aan te teken.

Dat die WP soms sy eie grootste vyand was, is gewis so. Die Streeptruie moes op die keper beskou met die rustyd verder as met 10-5 voor gewees het. Damian Willemse was egter lelik van stryk op losskakel en met nabetragting sal net die WP weet waarom die kantlyn opgesoek is toe ’n strafskop in die 72ste minuut toegeken is wat hul voorsprong na agt punte kon laat rek en waarskynlik daarmee die wedstryd kon beklink het.

Maar kom ons wees eerlik – die Bulle se gees in daardie laaste halfuur het hulle laat verdien om die wedstryd te beklink.

Dit was vir hul losskakel, Chris Smith, ook ’n groot dag. Daar was kommer oor hoe die besoekers sonder die ervare Morné Steyn in die nr. 10 trui sou vaar, maar Smith het ná ’n huiwerige begin die groot oomblik teen die einde omarm.

Sy dwarsskop vir Marco Jansen van Vuren se wendrie was eksieperfeksie en hy was komkommerkoel met die moeilike doelskop wat die Bulle die wedstryd laat wen het.

“Chris het teen die Cheetahs in Bloemfontein ’n doelskop verbrou, wat ’n gelykopstryd kon verseker het en het hier met ’n moeiliker skop geslaag om die wedstryd te wen,” sê White.

“Hy gaan by Morné leer en gaan baie selfvertroue uit hierdie oorwinning put. Chris se vertoning was ’n groot pluspunt en hy gaan vorentoe net beter raak.”

Dieselfde geld die ganse Bulle-groep na só ’n oorwinning, voeg die voormalige Bok-afrigter by.

“Enige afrigter sal uiters trots wees as sy span vir 35 minute met 14 spelers speel en steeds die WP klop. Dis waarskynlik die laaste wedstryd tussen dié spanne op Nuweland en een wat onthou sal word,” sê White.

“Mense praat altyd van hoe jy spankultuur vestig. Jy kry daardie tipe uitslag as jy karakter en die regte kultuur in jou span het. Ek is baie trots op die spelers.”

Meer oor:  Jake White  |  Jacques Van Rooyen  |  Nuweland  |  Curriebeker  |  Wp  |  Bulle  |  Westelike Provinsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.