Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake-hulle wen stryd; Goosen na Loftus

Dit is amptelik – Johan Goosen is ’n Blou Bul.

Johan Goosen omhels Francois Hougaard in ’n Bok-toets in 2016. Goosen en Hougaard gaan voortaan albei vir die Bulle speel. Foto: Getty Images

Volgens Rapport se inligting sal die Blou Bul Maatskappy dié week aankondig dat die voormalige Springbok-losskakel en -heelagter sy Franse klub Montpellier vir Pretoria verruil.

Rapport verneem Goosen het ’n kontrak van drie jaar met die Bulle gesluit.

Goosen word al geruime tyd deur die Bulle se breier, Jake White, geteiken. White het juis verlede week aan Rapport bevestig dat die Bulle gretig is om top-veelsydige spelers Loftus Versfeld toe te lok.

Die 28-jarige Goosen word beskou as ’n moontlike plaasvervanger vir die 36-jarige Morné Steyn, wie se kontrak by die Bulle vanjaar verstryk. Steyn het ’n opsie om as ’n skopafrigter deel van White se bestuurspan te word, maar kan ook besluit om aan te hou speel as die Bulle hom sou nodig hê. Goosen is ’n belangrike aanwins in White se strewe om ’n span te bou wat plaaslik en in Europa kan oorheers.

Ander onlangse aankope wat met White se strategie strook, is dié van die Bokke Marcell Coetzee en Francois Hougaard, wat hulle in Junie by die Bulle aansluit.

Goosen het in 2012 as ’n plaasvervanger teen Australië in Perth sy Bok-debuut gemaak en het in 13 toetse vir die Springbokke gespeel. Sy laaste toets was in 2016 in Cardiff.

Met ’n waarskynlik propvol rugbykalender oor die volgende 18 maande met die Curriebeker, Pro16 en die Rugbykampioenskap wat sal oorvleuel, sal spelerdiepte ’n belangrike faset vir enige span wees wat sukses wil behaal. Goosen, wat ewe tuis op losskakel as heelagter is, pas dus White se plan soos ’n handskoen. Die Bulle het wel in Chris Smith goeie losskakel-talent, maar op heelagter kan sake vir White begin lol.

Gio Aplon is 38 jaar oud en tans beseer en die belowende broers David en Richard Kriel kort veel meer speelkans om hulle te speen.

Daar was aanvanklik sprake dat Goosen hom by die Cheetahs sou aansluit om saam met sy oud-Montpellier-spanmaats Frans Steyn en Ruan Pienaar te speel, maar met die Cheetahs wat nie meer ’n Pro16-span is nie, was die Bulle se aanbod meer aanloklik.

Dit wil ook voorkom asof die Bulle vanjaar nie veel van sy spelers sal verloor nie. Terwyl Ivan van Zyl besluit het om sy loopbaan by Saracens voort te sit, sal Hougaard sy plek vul.

Die Bulle is ook besig om te onderhandel met van hul sterre wie se kontrakte vanjaar verstryk. Die Springbokke Trevor Nyakane, Lizo Gqoboka, Marco van Staden en Embrose Papier is in dié opsig prioriteite.

Die slot Ruan Nortjé, wat vanjaar baie beïndruk het, het die week sy kontrak tot 2024 verleng, terwyl die Blitsbok Stedman Gans ook sy kontrak tot 2023 verleng het. Die Bulle het ingestem om Gans vir die Blitsbokke vry te stel as hy vir die Olimpiese Spele gekies word.

Meer oor:  Kontrak  |  Blou Bulle  |  Montpellier  |  Johan Goosen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.