Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Impakspelers die groot verskil’

Jake White het met voorbedagte rade drie Springbokke op die Bulle se plaasvervangersbank gekies vir Saterdagaand se ontmoeting met die Leeus in die Reënboogbeker SA-reeks.

Dit was juis toe ook Morné Steyn, Arno Botha en Lizo Gqoboka wat die Curriebeker-kampioen in die laaste 20 minute gehelp het om die wind uit die besoekers se seile te neem.

Lizo Gqoboka, Bok-stut van die Bulle, laat loop die bal Saterdagaand na die veteraan Morné Steyn (nr. 22) in die wedstryd teen die Leeus op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Die Bulle het met 24-9 geseëvier, danksy drieë deur Zak Burger en Elrigh Louw diep in die tweede helfte.

“Dit het die wedstryd in ons guns geswaai. Al die spanne gaan vir ons kom en ek het dit geweet.

“As jy bekers wen, gaan dit al hoe moeiliker raak en ons moes vasbyt. Ons het die bank so gekies en ek het vir ouens gevra vir kalmte en leiding aan die einde en ek is tevrede daarmee.

“Die uitdaging is dat iemand soos Lizo dieselfde indruk moet maak wanneer hy begin.”

Dit was ’n wedstryd waarin drie van die Bulle se “drieë” omgekeer is ná voorvalle wat na die TV-skeidsregter verwys is.

Die Bulle-vleuel Madosh Tambwe se poging doellyn toe (in die 69ste minuut) het gesneuwel toe die Leeus se kaptein, Dan Kriel, die blaser, Rasta Rasivhenge, se toekenning van die drie bevraagteken het.

White het toegegee dit was ’n “hengse frustrasie”.

“Elke keer wanneer jy dink daar is ’n groter gaping in die voorsprong, dan moet jy weer van voor af begin.

“Gee die Leeus lof, ek dink hulle het met baie emosie gespeel en hulle was regtig goed by die afbreekpunte.

“Die bal was in die eerste helfte 21 minute lank in spel en ons gemiddelde tyd in die Curriebeker-reeks was sowat 27 minute. Ons het dus byna ’n hele wedstryd voor rustyd gespeel.

“Dit was nie maklik nie, maar dit is belangrik dat ons gewen het.”

Keer my as julle kan! Elrigh Louw, flank van die Bulle, druk Saterdag een van sy span se drie drieë teen die Leeus op Loftus. Foto: Gallo Images

White voorspel die Stormers gaan die komende naweek ’n omgekrapte spul in Kaapstad wees ná die wyse waarop hulle Saterdag tuis teen die Haaie verloor het.

“Dit sal hulle aanvuur. Die Noord/Suid-stryd is altyd taai en nog meer so ná die nederlaag teen die Haaie.

“Hopelik het ons Trevor (Nyakane) en Duane (Vermeulen) terug in die span.”

Is hy ’n voorstander van die nuwe reëls wat op die proef gestel word?

“Dit is iets waaraan ons gewoond moet raak.

"Ek is nie ’n voorstander van die kapteins wat beslissings (van die skeidsregters) kan bevraagteken nie.

“Ook nie die doellyn-inskoppe nie, maar dit is dalk omdat ek gewoond is aan ander reëls.

“Die nuwe rooikaart-reël, daar is nou ’n enorme poging om die spel veiliger te maak en vandag was dit duidelik dit gaan jou duur te staan kom as jy nie akkuraat met jou duikslae (se hoogte) is nie.

“As dit wel die spel veiliger gaan maak, want ons wil nie hê ma’s moet hul seuns verbied om rugby te speel omdat dit nie veilig is nie, maak dit sin.

“So, as dit die spel gaan laat groei, is ek ten gunste van die nuwe inisiatiewe.”

Meer oor:  Jake White  |  Bulle  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.