Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake in sy skik om te sien hoe Bulle ‘diep delf'

Jake White sou verkies het dat sy Blou Bul-span hul Curriebeker-kragmeting teen die Pumas makliker gewen het as wat die geval was met die doodsnik-sege van 32-27 (rustyd 17-3) Vrydagaand op Loftus Versfeld in Pretoria.

Tapiwa Mafura, vleuel van die Pumas, kry die Bulle se David Kriel aan die enkels beet tydens Vrydagaand se Curriebeker-kragmeting op Loftus in Pretoria. Foto: Christiaan Kotze/ Gallo Images

Nadat die Bulle in die eerste stryd van die kompetisie teen die WP vasgeval het, het die tuisspan Vrydag plek-plek weer soos die oorheersende Bulle gelyk toe hulle die besoekende Pumas geklop het.

In ’n stadium was die Ligbloues met 25-10 voor voordat hulle ’n insinking beleef het en die Pumas kwaai teruggeveg het op die telbord.

Maar die Bulle het uiteindelik ’n groot genoeg voorsprong gehad om die wedstryd te beklink.

“Ons het goeie rugby gespeel as ’n mens in ag neem dat ons om die wêreld gevlieg het en ’n kort herstelkans tussenin gehad het,” het White gesê.

Die meeste lede van die Bulle-span wat Vrydag die Pumas net-net geklop het, was verlede Saterdag nog in Italië in aksie, waar hulle in die Reënboogbeker-eindstryd deur Benetton geklop is.

“Ons het ’n bietjie verander na aanleiding van wat ons laasweek (in Italië) geleer het. Toe het ons die balbesit ’n bietjie te maklik weggeskop. Vanaand (Vrydagaand) het ons effe beter aan die bal vasgehou en fases opgebou. Dis iets wat ek werklik van die manne wou hê.

“Ons moet egter ook nie die Pumas onderskat nie. Hulle is ’n goeie span en het die Leeus met ’n bonuspunt geklop.

“Hulle het waarskynlik drie maande gehad om voor te berei en kon kombinasies toets. Ek is baie gelukkig met die oorwinning en vyf punte.

“Ons is terug by die huis na ’n lang reis, maar moes steeds diep delf vir die oorwinning, wat vir my as afrigter goed was om te sien.”

Tapiwa Mafura duik oor vir sy drie. Foto: Sydney Seshibedi/Gallo Images

Saam met die soet van die oorwinning het daar ook ’n bietjie suur gekom met die veteraan-heelagter Gio Aplon wat reeds vroeg in die stryd met ’n besering van die veld af is. Hy het pas herstel van ’n ernstige kniebesering en pas weer begin speel voordat hy Vrydagaand weer sy knie beseer het.

Volgens White lyk die besering nie goed nie.

“Ek voel jammer vir hom, hy wou net terug op die veld kom en het hard gewerk. Hy is ’n baie pligsgetroue speler.

“Dit kan waarskynlik die einde van sy loopbaan beteken.”

Die Pumas het so byna ’n opskudding op Loftus veroorsaak, met Jimmy Stonehouse, die Laevelders se afrigter, wat trots op sy span se poging kan wees.

Veral Devon Williams het as heelagter ’n puik stryd beleef. Die drie wat hy vir sy vleuel Tapiwa Mafura geskep het toe hy een van sy vele bresse geslaan het ná ’n omkeerbesit-skrum, het so byna die wedstryd op sy kop gekeer.

Die Pumas-losskakel, Eddie Fouché, het ook 17 punte tot sy span se telling bygedra.

“Die fout-faktor in die eerste helfte was so groot dat dit ons onder druk geplaas het,” het Stonehouse agterna gesê.

“In die tweede helfte het ons ongelooflik goed teruggekom en die foute wat ons gemaak het, was bitter min.”

Die Pumas is oorgehaal om van dié nederlaag te vergeet en voor te berei vir hul stryd teen Griekwas, Vrydag in die Mbombela-stadion.

Meer oor:  Pumas  |  Blou Bulle  |  Jake White  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.