Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake: Laat Siya swart Bok-span teen Wallis lei

Maak Siya Kolisi die Springbok-kaptein vir die toets teen Wallis in Amerika en omring hom met spelers van kleur.

Siya Kolisi verlede jaar teen Wallis in aksie. Foto: Getty Images

Dit is die pleidooi wat die voormalige Bok-breier Jake White Dinsdag in sy rubriek op Alloutrugby.com gelewer het, maar die oud-Bokstut Ollie le Roux sê dié plan, hoe edel White se bedoeling ook al mag wees, is inherent rassisties.

White het selfs vir Rassie Erasmus, die nuwe Bok-breier, die span gewys wat hy vir dié toets sou kies. Én die beginspan wat hy vir die eerste toets teen Engeland sou inspan die week ná die toets teen Wallis in Washington DC.

“Dit lyk of die Bok-breier ’n transformasie-teiken van 50% deur die seisoen sal moet bereik. Dit is meer realisties as om te verwag dat hy ’n 50%-teiken in elke toets moet handhaaf, aangesien beserings en spelpeil selfs die beste planne kan ontwrig,” skryf White.

White sê aangesien die toets teen Wallis op 2 Junie buite die internasionale toetsperiode val, sal dit vir Erasmus moeilik wees om oorsese Bokke te kies, selfs al lyk dit of die 30-toets-reël nie meer van toepassing gaan wees nie.

“Dit is onwaarskynlik dat oorsese spelers vrygestel sal word om te speel. In Junie vind die uitkloprondes van die Europese seisoen plaas en spanne soos Montpellier, Toulon en Saracens sal nie hul spelers vrystel nie.

“As ek die Bok-breier was, sou ek ’n span uit plaaslike spelers kies vir die Wallis-toets, in die besonder spelers wat aan die transformasie-vereistes voldoen.”

White sê Kolisi kan ’n span lei wat só lyk: Warrick Gelant, Ruan Combrinck, Lionel Mapoe, Damian de Allende, Raymond Rhule, Damian Willemse, Embrose Papier, Nizaam Carr, Thembelani Bholi, Kolisi (k), Lood de Jager, Marvin Orie, Trevor Nyakane, Chiliboy Ralepelle, Beast Mtawarira.

“Dié span sal verskeie doele dien. Dit sal druk van die transformasie-vereistes vir die res van die seisoen verlig, druk verlig wat spankeuses vir die Engelse betref én spelers die geleentheid gee om hul staal op die internasionale verhoog te toon.”

White glo dié span sal goed genoeg wees om Wallis, wat tam sal wees ná ’n lang seisoen, te klop.

“Vir die eerste toets teen Engeland kies jy dan ’n span wat só kan lyk: Willie le Roux, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, Frans Steyn, Aphiwe Dyanti, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Jean-Luc du Preez, Francois Louw, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Vincent Koch, Malcolm Marx, Steven Kitshoff, met spelers soos Bismarck du Plessis, Elton Jantjies en Curwin Bosch in die groep.”

Volgens White kan dié resep vir die Rugbykampioenskap herhaal word. Die span wat teen Wallis gespeel het, kan op die Argentyne losgelaat word.

Wat hy eintlik sê, is dat die swart span swakker as die wit span is.
Ollie le Roux

Le Roux sê White se plan is skerp en hy verstaan dit, maar “dit is ’n rassistiese beleid daai”.

“Dit is ’n baie skerp idee dat hy sê ons moet meer ouens blootstelling gee. Ek verstaan wat hy wil doen, maar daar is net een probleem: die een span is wit en die ander span is swart,” sê Le Roux.

“Wat hy eintlik sê, is dat die swart span swakker as die wit span is. Ek sal in elk geval ouens soos Siya, Lionel en Warrick in my eerste span kies.

“As iemand toetsrugby speel, moet hy daar wees op meriete. En op meriete kan ons ’n baie goeie span kies, een wat die land goed verteenwoordig,” sê Le Roux.

Die voormalige Bok-slot Victor Matfield glo daar is geen manier hoe Erasmus sy beste span vir die toets teen Wallis gaan kies nie.

“Hy gaan die toets gebruik om sy diepte te versterk. Hy sal ouens wat hard aan die deur klop ’n kans gee en selfs oorsese spelers inspan,” sê Matfield. – Bron: Alloutrugby.com

Meer oor:  Bokke  |  Jake White  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Ollie Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.