Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake lê nie wakker oor 21-dae-klousule
Volgens Jake White gaan die Springbok-stut Trevor Nyakane ’n Bul bly. Foto: Gallo Images

Jake White is nie bekommerd dat die veelbesproke 21-dae-klousule van Suid-Afrikaanse rugby die Bulle-franchise van sy Springbokke gaan stroop nie.

“Nee, ek is nie onrustig daaroor nie. Ek het reeds met Bokke soos Trevor Nyakane, Embrose Papier en Lizo Gqoboka gesels en hulle gaan by die Bulle bly.

“Hoeveel van die ander spelers dit oorweeg om oorsee te gaan, is moeilik om te bepaal.

“Ek dink ons sal dalk eers op die laaste dag van die tydperk in kennis gestel word watter spelers hulle kontrakte wil kanselleer,” sê die Bulle se nuwe direkteur van rugby.

Die besluitnemers in Suid-Afrikaanse rugby het verlede maand, toe daar onderhandel is oor ’n besparingsplan weens die finansiële impak van die koronavirus-pandemie, op dié grasietydperk besluit.

Dit bied aan plaaslike spelers die keuse om van hul kontrakte vrygestel te word, sou hulle teen 14 Mei ’n beter heenkome oorsee kry.

Ander Bokke soos Marco van Staden, Ivan van Zyl en Warrick Gelant gaan ook in Pretoria aanbly.

Die Bulle het intussen die Bok-stut Marcel van der Merwe, wat sedert 2016 vir Toulon in Frankryk in die voorry sak, teruggelok.

“Ons het baie teen hom gespeel (toe White Montpellier afgerig het). Hy het goeie ervaring in Frankryk opgedoen en speel goeie rugby.

“Marcel sal waardevol wees as Trevor vir die Springbokke speel.”

White sê dit is ook steeds die plan om nog ’n Springbok-vaskopstut, Vincent Koch, in 2021 by Saracens vir die Superreeks te leen.

“Dit klink dalk oordadig om Trevor, Marcel en Vincent in een groep te hê, maar met die toer van die Britse en Ierse Leeus volgende jaar, sal die Bokke genoeg ruskans moet kry (tydens die Superreeks).

“Jy kan ook nooit te veel diepte in Superrugby hê nie.”

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) behoort volgende week aan te kondig dat nog ’n oud-Bul, Arno Botha, weer vir die span beskikbaar is.

Volgens White is dit ook nie ’n uitgemaakte saak dat die losskakel Manie Libbok Haaie toe gaan nie.

“Ek het nog niks op skrif ontvang nie, maar ek weet die Haaie stel in hom belang.”

Die Haaie wil Libbok glo kontrakteer, omdat dié span nie seker is of hy Curwin Bosch se dienste gaan behou nie.

White sê sy grootste kopseer is op slot.

“Al die Suid-Afrikaanse unies het dié probleem. Ons het uitstekende slotte soos Eben Etzebeth, Lood de Jager, Franco Mostert en RG Snyman, maar almal speel oorsee.

“Die Bulle het die afgelope paar seisoene slotte soos De Jager, Snyman, Jason Jenkins, Flip van der Merwe, Paul Willemse, Jacques du Plessis en Nicolaas Janse van Rensburg verloor.

“Dit is die grootste leemte in die Bulle-agttal.”

Meer oor:  Jake White  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.