Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake loof Duane, impakspelers

Ná twee vertonings wat so-so was, is Jake White Saterdagaand gevra of sy span se indrukwekkende oorwinning van 41-14 oor die Haaie in die plaaslike Superreeks dalk die Bulle se keerpunt was.

Luister vir kaptein Duane! Die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen was Saterdagaand uitstaande teen die Haaie op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Hy was, met die Stormers wat volgende Saterdag op Loftus Versfeld wag, versigtig om in die slagyster van groot beloftes en verwagtinge te trap.

“Ek hoop so. ’n Ou moet ook realisties wees en besef ons is ’n span wat groei.

“Dit sal ’n ander storie wees teen die Stormers. Dit is die span met die meeste Wêreldbeker-Bokke en hulle het ’n baie sterk skrum.

“Die tekens wat ons vanaand uitgestuur het, is bemoedigend en ek glo mense sal nou weet hoe gedug ons kan wees.”

White het groot lof vir sy kaptein, Duane Vermeulen, en die plaasvervangers.

Dit word nie in die eindtelling weerspieël nie, maar die Haaie het in die eerste helfte hul spiere in die skrums gebult en ’n paar keer Bulle-besit by die afbreekpunte gegaps.

Vermeulen se leierskap en kalmte het ’n groot verskil gemaak, sê White.

“As hy op dreef is, volg almal hom. Hy het daardie persoonlikheid en ’n aura in ons span. Hoe meer hy speel, hoe beter is dit vir ons.

“Ek was baie bemoedig om rustyd te sien die spelers is kalm en verstaan wat reggestel moet word.

“Ons kon in die begin nie ons dryfmale aan die gang kry nie en is gestraf in die skrums.

“Dit is belangrik dat jy kan aanpas wanneer dinge nie verloop soos wat jy gehoop het nie.”

Arno Botha met die bal onder die arm in die tweede helfte. Die Haaie se damwal het meegegee nadat impakspelers soos Botha ná rustyd opgestuur is. Foto: Gallo Images

Dit was ’n troefkaart om Springbokke soos Arno Botha, Trevor Nyakane en Embrose Papier van die plaasvervangersbank af op te stuur.

“Ek is regtig beïndruk met die impak van die plaasvervangers. Dit is die derde agtereenvolgende naweek wat ons sterk eindig.

“Ons kondisionering en die vermoë van ons plaasvervangers is een van ons grootste bates op die oomblik.”

Die groot verskil tussen die totale oorheersing teen die Haaie en verlede naweek se nederlaag teen die Cheetahs, was afronding.

“Ons het ons kanse dié keer benut en was doelgerig op die aanval.

“Ek dink ons het weer gewys ons is nie ’n eendimensionele span nie.

“Voorlangs is ons sterk en kan oorheers en in die agterlyn is daar gevaarlike spelers.

“Dit is hoe ek wil hê my spelers moet reageer ná ’n nederlaag.”

White moet die komende week besluit of hy gaan torring aan sy lostrio – Vermeulen, Elrigh Louw en Marco van Staden.

Arno Botha is een van die plaasvervangers wat ’n groot invloed gehad het in die tweede helfte, terwyl die oud-Stormer Nizaam Carr ook by die 23-tal ingesluit kan word.

Meer oor:  Haaie  |  Jake White  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.