Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake loof Lizo se ‘enorme’ impak op veld

Daar was in 2019 niemand wat meer ingedoen kon voel dat hy nie die Springbokke se Wêreldbeker-groep na Japan gehaal het nie as die stut Lizo Gqoboka.

Dié vriendelike Oos-Kapenaar was in die Superreeks in ál 17 wedstryde in die beginspan van die Bulle en hy het van die beste rugby van sy loopbaan gespeel.

Lizo Gqoboka, stut van die Bulle, het Saterdag op Loftus ’n beduidende impak in die tweede helfte gemaak. Foto: Gallo Images

Die onreg was so groot dat Rassie Erasmus, die Bokke se afrigter, Gqoboka om verskoning gevra het dat hy hom nie kan kies nie.

Nie dat iemand Erasmus se oordeel kon bevraagteken nie – Beast Mtawarira en Steven Kitshoff was in daardie stadium sonder twyfel die voorste loskopstutte in Suid-Afrikaanse rugby.

Die kragspel wat Gqoboka Saterdagaand teen die Haaie gelewer het in die Reënboogbeker-reeks op Loftus Versfeld, sou sy Bok-aandele ’n gesonde hupstoot gegee het met die oog op die toer van die Britse en Ierse Leeus.

Hy is teen rustyd as ’n impakspeler opgestuur en het in die 53ste minuut oorgeduik vir die Bulle se eerste drie.

Al die voorspelers het goed gespeel, maar die impak wat hy gemaak het, was enorm.
Jake White

Gqoboka was aan die voorpunt van die genadelose aanslag waarmee die Haaie in die tweede helfte afgeransel is.

“Al die voorspelers het goed gespeel, maar die impak wat hy gemaak het, was enorm,” het die Bulle-breier, Jake White, gesê.

“Daardie drie wat hy gedruk het, en hy het die vorige week (teen die Stormers in Kaapstad) dieselfde gedoen toe hy ’n bres geslaan het by ’n losgemaal en Zak (Burger) weggestuur het vir ’n drie, was uitstekend.

“Hy is ook sterk in die skrums. Ek het geweet Thomas (du Toit) en Ox (Nche) gaan hard kom vir ons in die faset en dit is hoekom ek teen rustyd ons stutte vervang het (Gerhard Steenekamp en Mornay Smith was die beginspan-stutte).

“Ek wou Lizo ’n volle helfte saam met Trevor gee, want ek weet hoe goed hy op die oomblik speel.

“Hy weet daar is ’n geleentheid vir hom met Beast wat uitgetree het en hy sal hopelik van krag tot krag gaan en aanspraak maak op ’n plek in die groep vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus.”

Groot, fisiek en vaardig. Elrigh Louw Saterdagaand op Loftus Versfeld op die aanval teen die Haaie. Foto: Gallo Images

Dit is nie net Gqoboka wat die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, sou beïndruk het in die Bulle-pak nie.

White het die 21-jarige Elrigh Louw verlede jaar kort ná sy aankoms by Loftus na die Bul-kraal gelok en enkele weke later as ’n toekomstige Springbok beskryf.

Louw was Saterdag, nadat hy Arno Botha vroeg in die eerste helfte langs die kant van die skrum vervang het, ’n kolos op die voordeellyn en het uitstekend saam met sy kaptein, Duane Vermeulen, en Marco van Staden gekombineer.

Die slot Ruan Nortjé se werkverrigting en die wyse waarop hy, op 22, aan die stuur van die Ligbloues se lynstane is, is ewe indrukwekkend.

Meer oor:  Haaie  |  Jake White  |  Lizo Gqoboka  |  Bulle  |  Pretoria  |  Elrigh Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.