Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake loof Mallett vir sy mentorskap

Dankie, Nick Mallett.

Nick Mallett, voormalige Springbok-afrigter, op die oefenveld in 1997. Foto: Getty Images

Jake White, die argitek van die Springbokke se 2007 Wêreldbeker-glorie, het in ’n openhartige onderhoud hulde gebring aan Mallett vir die rol wat hy in sy loopbaan gespeel het.

White was van 1997 tot 1999 ’n tegniese adviseur in Mallett se Bok-afrigtingspan.

“Ek was baie bevoorreg om deel van daardie span te wees. Dit was ’n wonderlike geleentheid om by Nick te leer hoe om ’n afrigter te wees.

“Om te sien hoe hy afrig en wat hy in videosessies gesê het. Ek het ongelooflik baie by hom geleer.

“Dit was die gloriedae. Ons het 17 agtereenvolgende toetse gewen en ek het daardie tyd gedink dit kan nie beter as dít raak nie.

“Daar was topspelers soos Henry Honiball, Gary Teichmann, André Venter, Mark Andrews, Joost van der Westhuizen in daardie span. Dit was ’n baie spesiale tyd in my lewe.”

White, wat in Maart as die Bulle se direkteur van rugby aangestel is ná ’n lang afwesigheid in Suid-Afrikaanse rugby, sê hy het in 1997 gesmeek om dié pos te kry.

“Ek was so verheug toe Rian Oberholzer (die voormalige Suid-Afrikaanse rugbybaas) my gebel en meegedeel het ek is ’n tegniese adviseur vir die Springbokke.

“Ek was eintlik maar ’n video-ontleder.

“Hoe het tye nie sedertdien verander nie. Deesdae word alles op ’n klein skootrekenaar gedoen.

“In my tyd moes ek letterlik my hele rekenaar en hardeskyf, twee video-opnemers en videokassette in trommels pak wanneer ons gaan toer het.”

White sê hy het dit as ’n afjak beskou toe hy later as ’n hulpafrigter in Harry Viljoen se era die trekpas gekry het.

“Ek is gevra om die o.21-span te gaan afrig en ek het gevoel ek is in die steek gelaat.

“Min het ek geweet alles het mooi in plek geval met die oog op die toekoms.

“Baie spelers in daardie span van 2002, soos Jean de Villiers, Ashwin Willemse, Ricky Januarie, Fourie du Preez, Jacques Cronjé, Pedrie Wannenburg, Gary Botha en Gurthrö Steenkamp het later die kern van die 2007-kampioenspan geword.”

White het in die onderhoud – ten bate van die Chris Burger/Petro Jackson-spelersfonds – gesê hy wil toesien dat Loftus Versfeld in die volgende paar seisoene ’n Springbok-fabriek is.

“Ek besef hoe belangrik dit is om ten nouste saam met Suid-Afrikaanse rugby te werk.

“Ek dink dit is deel van my werk om soveel jong spelers moontlik op te lewer.

“Dit is deel van ons plan om talent deur ons struktuur te kry wat vir die Springbokke kan speel,” sê hy.

• Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het bevestig dat dr. Henning Gericke en André Volsteedt, ’n voormalige fiksheidsghoeroe van die Bulle, deel van White se bestuurspan word.

Gericke was van 2004 tot 2007 die Bokke se sielkundige.

Die BBM onderhandel nog net Gericke, maar Rathbone sê hulle gaan hom beslis betrek.

Volsteedt het ’n kontrak van ses maande met die Bulle gesluit.

Meer oor:  Jake White  |  Springbokke  |  Nick Mallett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.