Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake: Marcell se Bok-kans sal weer kom
Die Springbok-losvoorspeler Marcell Coetzee sal die Bulle Saterdag in Durban teen die Haaie lei. Foto: Gallo Images

Enige afrigter wat sonder losvoorspelers soos Duane Vermeulen, Elrigh Louw en Arno Botha oor die weg moet kom en steeds twee Springbokke in sy lostrio en nog een op die bank kan kies, kan glad nie kla nie.

Die Bulle moes noodgedwonge – ná die beserings wat Vermeulen en Louw (albei enkel) Vrydagaand teen die Stormers opgedoen het – ’n nuwe lostrio kies vir Saterdag se wedstryd in Durban teen die Haaie in die Reënboogbeker-reeks.

Jake White het verras deur die slot Ruan Nortjé in die nr. 7-trui te kies.

Marcell Coetzee behou die kapteinskap en skuif van flank na agtsteman, terwyl Marco van Staden weer die oopkant-flank is.

“Elrigh is waarskynlik vir ses, sewe weke uit en as hy terugkom, sal Jacques du Plessis ook hier wees.

“Ons is in ’n goeie posisie met diepte in die lostrio.”

White sê dit was ’n logiese keuse om Coetzee as die nuwe agtsteman te kies in Vermeulen se afwesigheid.

“Hy het ook vir Ulster daar gespeel en is ’n baie soortgelyke speler as Duane.”

Die Bulle-afrigter sê daar moenie te veel gemaak word van Coetzee wat nie die Springbok-groep gehaal het nie.

“Ek het met Rassie (Erasmus) gesels, dit is ’n lang seisoen wat voorlê en hy het vir ’n hele ruk nie gespeel nie.

“Met Marco, die Du Preez-broers (Dan en Jean-Luc), Jasper Wiese, Kwagga Smith, Pieter-Steph du Toit en Siya is daar so baie losvoorspelers in die groep.

Marcell is ’n goeie speler en ek is seker hy sal vorentoe aanspraak maak op ’n plek in die groep. Maar eers moet hy aanhou goed speel vir die Bulle.
Jake White

“Marcell is ’n goeie speler en ek is seker hy sal vorentoe aanspraak maak op ’n plek in die groep.

“Maar eers moet hy aanhou goed speel vir die Bulle.”

White meen dit kan met die oog op die toekoms voordelig wees vir Nortjé om flank te speel.

“Ek dink dit is goed vir hom om in twee posisies te kan speel. Ons almal weet sy werkverrigting is ongelooflik.

“Die mense noem hom nie verniet ‘Enjin’ nie.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle. Foto: Gallo Images

“Hy gee ons ook ’n bykomende keuse agter in die lynstaan. As ons hom kan gebruik as iemand wat slot en in die lostrio kan speel, gaan hy daarby baat vind.

“Iemand soos Pieter-Steph du Toit het op slot begin, flank toe geskuif en die beste in die wêreld geword.

“Dit is ’n opwindende uitdaging vir Ruan en ek is seker hy sal die aanpassing kan maak.”

Janko Swanepoel is Walt Steenkamp se nuwe slotmaat.

Nizaam Carr en Muller Uys, wat van ’n langtermynbesering herstel het, is die losvoorspelers op die plaasvervangersbank.

Die agterlyn is onveranderd gelaat.

Die Bulle se span is:
David Kriel, Madosh Tambwe, Marco Jansen van Vuren, Cornal Hendricks, Stravino Jacobs, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Marcell Coetzee (k), Ruan Nortjé, Marco van Staden, Janko Swanepoel, Walt Steenkamp, Mornay Smith, Johan Grobbelaar, Gerhard Steenekamp. PLAASVERVANGERS: Schalk Erasmus, Jacques van Rooyen, Trevor Nyakane, Nizaam Carr, Muller Uys, Keagan Johannes, Clinton Swart, Gio Aplon.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Jake White  |  Marcell Coetzee  |  Durban  |  Pretoria  |  Reenboogbeker-Reeks  |  Haaie  |  Springbokke  |  Bulle  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.