Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake nou amptelik ’n Loftus-man
Die Bulle betree ’n nuwe era onder die voormalige Springbok-afrigter, Jake White. Foto: Gallo Images

Dit is amptelik: Jake White slaan nou die kitaar by Loftus Versfeld.

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het bevestig dat White (56) sy nuwe direkteur van rugby is.

Hy meld dadelik by die Bulle aan en is tot en met 2023 gekontrakteer.

Alfons Meyer, die BBM se uitvoerende hoof, sê hulle is “onsettend opgewonde” oor Jake se besluit om by die Bulle aan te sluit.

“Sy CV spreek vanself en ons weet sy bydrae sal ons rugby op alle vlakke versterk.

“Jake se aanstelling is nog ’n stap in die regte rigting met die BBM wat die Bulle-handelsmerk ’n nuwe era invat.”

Dit is White se eerste pos in Suid-Afrikaanse rugby sedert hy in 2014 onder ’n wolk van omstredenheid weg is by die Haaie.

Hy is een van wêreldrugby se mees gevierde breiers en het, nadat hy die Springbokke in 2007 tot Wêreldbeker-glorie geneem het, ook die Brumbies, Montpellier en Toyota Verblitz afgerig.

White was voorts in 2014 ’n tegniese adviseur vir Tonga.

In ’n verklaring van die Bulle, sê White, die span was nog altyd een van die reuse in rugby en word regoor die wêreld gerespekteer.

“Daar is ’n wonderlike geskiedenis en erfenis hier en ek sien uit daarna om daartoe by te dra.

“Die aandeelhouers, Remgro, Patrice Motsepe en die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU), het ’n ongelooflike ambisie om die Bulle weer nommer een te maak.

“Ons moet ’n wenkultuur by Loftus hervestig en dit sal sonder twyfel weer die ondersteuners terugbring.

“Dit sal nie maklik wees nie, maar ons is reg daarvoor.”

Hy vervang vir Alan Zondagh, wat verlede maand, ná net meer as ’n jaar se betrokkenheid by die Bulle, uit die pos bedank het om meer tyd saam met sy gesin deur te bring.

Daar is die laaste ruk by Loftus ontken dat Remgro, ’n aandeelhouer in die BBM, versoek het dat White in die pos aangestel moet word, maar daar word betroubaar verneem dat geen ander kandidate op die kortlys was nie.

Hy is die grootste hoëprofiel-aanstelling by die Bulle sedert die voormalige All Black-afrigter John Mitchell in 2017 die taak gekry het om dié voormalige kampioenspan te laat herleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.