Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake oorreed Goosen om Bulle te kies
Johan Goosen sool die bal in die Bulle se wedstryd teen die SA A-span die afgelope naweek in Kaapstad. Foto: Getty Images

Afgesien daarvan dat Jake White ’n topbreier is, skort daar oënskynlik ook niks met sy onderhandelingsvermoë nie.

Die Springbok Johan Goosen, wat Saterdag geskitter het in die Bulle se skoksege oor die Suid-Afrikaanse A-span in Kaapstad, het onthul White het hom van plan laat verander toe hy vroeër vanjaar “so half reeds besluit het” om weer vir die Cheetahs te gaan speel.

“Ek kom van Bloemfontein af en ek het reeds vir Hawies (Fourie, die Cheetahs se hoofafrigter) gaan sien. Ek het ’n sagte plek vir die Cheetahs en het baie vriende daar.

Jake White

“Toe bel Jake my en hy het my van besluit laat verander. Ek geniet dit om onder hom te speel en hy gee ’n mens baie selfvertroue. Hy vertrou ’n ou; jy moet net jou kant bring.”

Die 28-jarige Goosen, wat 13 toetse as losskakel en heelagter vir die Bokke gespeel het, sê die Bulle was wel net ná skool sy eerste keuse.

“Voordat ek destyds by die Cheetahs geteken het, wou ek Bulle toe kom. Dit was my droom in daardie tyd wat Ettienne Botha-hulle vir die Bulle gespeel het.

“Dinge het nie toe so uitgewerk nie en ek is dankbaar dat ek nou my kans kry om vir die Bulle te speel. Dit was spesiaal om die blou trui aan te trek.”

Hy sê hy het vanjaar by ’n kruispad in sy loopbaan gekom en hy het op die afrit terug Suid-Afrika toe besluit.

“My kinders is nou vyf en drie jaar oud en my vrou het baie opgeoffer. Jy kom in ’n stadium by dié besluit. Ek kon seker nog drie jaar daar (in Frankryk) gespeel het en dan afgetree en gaan boer het.

“Ek voel nog goed en dink ek kan baie bied en nog verbeter.”

Die voormalige All Black-losskakel Dan Carter.

Sy tyd in Frankryk het hoogtepunte en moeilike tye opgelewer, sê Goosen.

“Toe ek by Racing 92 aangekom het, was Johnny Sexton nog daar en later het ek buitesenter en heelagter gespeel omdat Dan Carter die losskakel was. Ek het so baie by Racing geleer.

“Losskakel was nog altyd my eerste keuse, maar by die Bulle sal ek ook speel waar die span my nodig het.

“By Montpellier was dinge moeilik uit ’n rugby-oogpunt, maar ons het baie lekker gebly. Dit was asof hulle die bal vir jou gegooi het en sê: ‘Daar gaan jy’. Hulle kontrakteer goeie spelers en verwag alles moet vanself gebeur.

“Jy kan 15 goeie spelers kry, maar as daar nie ’n afrigter is wat almal op die regte pad sit nie, help dit nie veel nie.”

Goosen sê die Bulle se vieringe toe die eindfluitjie in die Kaapstad-stadion geblaas het teen die SA A-span, was ’n kombinasie van vreugde en verligting.

“Dit was ’n hengse geleentheid vir ons gewees en ons het nie gegaan om te gaan verloor nie. Maar om eerlik te wees, die hele land het seker verwag ons gaan met 30 of 40 punte verloor.

“Ons vieringe was dalk oorboord as jy nou daaraan dink, maar die ouens het so hard gewerk op die veld en ek dink dit het ons nader aan mekaar gebring. Dit is ook altyd lekker om eerder te wen.”

Ek het seker ’n paar besluite in my lewe geneem waaroor ek spyt is, maar jy moet vorentoe kyk. Ek wil net my kant bring vir die Bulle en met ’n glimlag rugby speel.
Johan Goosen

Ná sy eerste vertoning in ’n Ligblou-trui word daar meteens weer van hom as ’n Bok-kandidaat gepraat. Het hy steeds nasionale aspirasies?

“Ek het seker ’n paar besluite in my lewe geneem waaroor ek spyt is, maar jy moet vorentoe kyk. Ek wil net my kant bring vir die Bulle en met ’n glimlag rugby speel.

“As ek kan speel soos ek kan en daar kom ’n groter eer op my pad, sal dit die kersie op die koek wees.”

Meer oor:  Jake White  |  Johan Goosen  |  Pretoria  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Montpellier  |  Losskakel  |  Rugby  |  Springbokke  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.