Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake plaas vertroue in jong agterste 3

Daar sal diegene wees wat dit as ’n ooglopende swakpunt in die mondering sal beskou om dit met drie onervare jongelinge in die agterste trio te waag.

David Kriel, Kurt-Lee Arendse en Stravino Jacobs is almal seuns op Curriebeker-vlak en is boonop ’n merendeels onbeproefde kombinasie.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle, is nie een van die doemprofete nie en is iemand wat verkies om die glas halfvol te sien.

Hy is veral opgewonde oor wat Jacobs, wat op linkervleuel gekies is, die span kan bied wanneer hulle Saterdag die Leeus in die Curriebeker-halfeindronde op Loftus Versfeld aandurf.

Cornal Hendricks is terug in die Bulle se middelveld vir Saterdag se ontmoeting met die Leeus in die Curriebeker-halfeindstryd. Foto: Gallo Images

Jacobs, wat verlede jaar ’n lid was van die Bulle se o.21-kampioenspan, is ’n ongeslypte diamant. Hy is fisiek en vreesloos.

“Hy is regtig ’n goeie speler. Hy is groot en sterk en is goed onder die hoë bal.

“Dit gaan nie net oor Saterdag nie. Dit is belangrik om ’n span bymekaar te kry vir die volgende paar jaar en dit is opwindend om hom in die agterlyn te hê.”

Cornal Hendricks en Stedman Gans hervat hul vennootskap in die middelveld nadat Marnus Potgieter en Dawid Kellerman die senterpaar in die vorige wedstryd teen die Pumas was.

Die Bok-stut Lizo Gqoboka keer terug na die opdrafspan nadat hy een van die plaasvervangers was teen die Pumas.

Trevor Nyakane en Schalk Erasmus is ook terug in die voorry in Jan-Hendrik Wessels en Joe van Zyl se plekke.

“Lizo is ’n Springbok en hy het al baie saam met Trevor gespeel.

“Met Daan Human (skrumafrigter van die Springbokke) wat verlede week met die pak gewerk het, het ek besluit om ’n gevestigde kombinasie te kies.

“En dit gee ons die luukse om Jacques (van Rooyen) op die bank te hê. Sy ervaring kan waardevol wees laat in die wedstryd.”

Sintu Manjezi sal Ruan Nortjé se slotmaat wees met Walt Steenkamp wat weens Covid-19-protokol nie oorweeg is nie.

Marcel van der Merwe het, soos verwag, nie die 23-tal gehaal nie.

White het in reaksie op Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus, wat aangedui het die besoekers wil die bal rondgooi op Loftus, gesê die Leeus se spankeuse vertel ’n ander storie.

“Jy kies nie ses voorspelers en twee agterspelers op die bank as jy met die bal wil hardloop nie. Sien is glo.”

• Net vier spelers – Cornal Hendricks (toe regtervleuel), Ivan van Zyl, Ruan Nortjé en Marco van Staden – was verlede seisoen in die Bulle se beginspan in die span se laaste Curriebeker-wedstryd teen die Haaie.

Bulle: David Kriel, Kurt-Lee Arendse, Stedman Gans, Cornal Hendricks, Stravino Jacobs, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen (k), Elrigh Louw, Marco van Staden, Ruan Nortje, Sintu Manjezi, Trevor Nyakane, Schalk Erasmus, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Johan Grobbelaar, Jacques van Rooyen, Mornay Smith, Jan Uys, Arno Botha, Embrose Papier, Chris Smith, Marco Jansen van Vuren.


Meer oor:  Jake White  |  Leeus  |  Bulle  |  Curriebeker-Halfeindstryd  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.