Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake ‘pos’ Libbok; Marcel terug

Jake White laat Manie Libbok gaan, maar die Springbok-stut Marcel van der Merwe keer terug na sy ou rugbytuiste in Pretoria.

Libbok gaan Durban toe en hy sal later vanjaar in die Curriebeker-reeks vir die Haaie beskikbaar wees as die rugbyseisoen hervat word. Dit lyk of White sy geld op Morné Steyn het om as eerstekeuse-losskakel die Bulle te laat opstaan.

Manie Libbok

Die Durbaniete het ’n kontrak met Libbok gesluit omdat Aphelele Fassi vanjaar vir die Springbokke sal speel en Curwin Bosch ook deur Rassie Erasmus-hulle betrek kan word.

Erasmus het al vroeër vanjaar aangedui dat hy die 22-jarige Fassi vir Julie se toets teen Georgië in die Baai wil kies.

Weens die Covid-19-pandemie is dit onwaarskynlik dat die toets nou sal plaasvind, maar hy kan in so geval later vanjaar op toetsvlak losgelaat word.

Ná sy goeie spel in vanjaar se Superreeks kan die 22-jarige Bosch ook deur die Bokke gekies word. Dis juis een van die Bokke se strategiese doelwitte om vanjaar die diepte van die nasionale span uit te brei.

Marcel van der Merwe
Marcel van der Merwe

Die 22-jarige Libbok is veelsydig genoeg om losskakel of heelagter te speel. Die Haaie se speelstyl behoort ook bevorderlik vir sy aanvallende spel te wees.

Hy sal by die Haaie steeds ’n nasionale kontrak van SA Rugby kry.

Libbok is uit Pretoria weg omdat White hom nie as sy eerstekeuse-losskakel beskou nie. Eerder as om hom by die Bulle te hou en hy veel minder speelkans kry, het White besluit dis beter vir Libbok se loopbaan om ’n Haai te word.

Steyn is die losskakel op wie White sy hoop in die Curriebekerreeks plaas. Met Steyn daar, het White geen haas om Libbok te vervang nie.

Aangesien Libbok ’n Haai word, gee dit wel aan White die geleentheid om ’n ander speler in sy toegelate senior groep van 45 spelers te kontrakteer.

Rapport kon nie Libbok se agent, Reghard van Dyk, vir kommentaar bereik nie.

Die 29-jarige Van der Merwe keer terug na die franchise waar hy van 2014 tot 2016 van sy beste rugby gespeel het.

Nadat hy onder meer in 2015 een van die ongelukkiges was wat nie vir die Bokke se Wêreldbekerspan gekies is nie, is hy in 2016 na die Franse klubspan Toulon.

Sedertdien beweeg hy meestal onder die radar.

Met Trevor Nyakane wat na verwagting grootliks vir die Bokke tydens die Curriebekerreeks beskikbaar sal wees, sal Van der Merwe genoeg speelkans in die Bultrui kry om nuwe lewe in sy Bok-loopbaan te blaas. Hy het op 15 Augustus 2015 in sy sewende en laaste toets gespeel.

Die Bulle het ook nog ’n vaskop, Wiehahn Herbst. Hy het pas bevestig dat hy by die Bulle bly.

Van der Merwe, Ashley Johnson (Wasps) en Sintu Manjezi (Cheetahs) is van die voorspelers wat in White se era Bulle kan word.

Die hoop bestaan steeds dat White daarin sal slaag om Marcell Coetzee en Arno Botha voor volgende jaar se Superreeks te oortuig om ’n lostrio saam met Duane Vermeulen op Loftus Vers­feld te vorm.

Meer oor:  Jake White  |  Marcel Van Der Merwe  |  Manie Libbok  |  Rugby  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.