Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake sê Rassie moet die Bulle brei

Die voormalige Springbok-afrigter Jake White meen dit sal die Bokke baat as die nasionale afrigter, Rassie Erasmus, die Bulle in volgende jaar se Superrugby-reeks brei.

Duane Vermeulen oefen vandeesweek saam met sy Springbok-spanmaats in Londen. Foto: Gallo Images

Erasmus, ook SA Rugby se direkteur van rugby, het sy hulp aangebied om die Bulle volgende jaar in die Superreeks te help nadat die Ligbloues se afrigter, John Mitchell, die unie verlaat het om hom by Engeland aan te sluit.

Volgens White sal só ’n skuif verskeie voordele vir Suid-Afrikaanse rugby inhou.

“Michael Cheika was steeds die Waratahs se afrigter toe hy Australië in 2015 tot die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi afgerig het,” skryf White in sy rubriek op alloutrugby.com.

“Cheika pluk steeds die vrugte van sy termyn as die Waratahs se breier met sy goeie verhouding met spelers van dié span, wat belangrik vir die Wallabies is.

“Die Bulle het pas ’n kontrak met Duane Vermeulen gesluit, wat Rassie van die Cheetahs na die Stormers gevolg het en vroeër vanjaar so byna as die Bokke se kaptein aangewys is.

“Loftus Versfeld is ook Jesse Kriel, RG Snyman, Embrose Papier, Trevor Nyakane, Lood de Jager, Handré Pollard en Warrick Gelant se rugbytuiste en die Bokke sal daarby baat as die nasionale breier weekliks met hulle werk.”

Volgens White kan Erasmus dan ook nou saam met opkomende afrigters by die Bulle saamwerk en hulle vir die toekoms slyp.

“Victor Matfield het net ’n kort ruk as ’n afrigter by die Leeus gehou, maar as hy vir ’n seisoen onder Rassie werk, kan hy die kans kry om te bewys hy is gereed om ’n hoofafrigter te wees.”

As afrigter van die Bulle sal Erasmus boonop die kans kry om nuwe planne teen Nieu-Seelandse spanne voor die Wêreldbeker-toernooi te toets.

Rassie Erasmus, die Springbok-hoofafrigter, dirigeer sy Bok-troepe by ’n oefening vandeesweek in Londen. Foto: Gallo Images

In sy rubriek skryf White ook oor die kwessie van Bok-kontrakte ná volgende jaar se skouspel in Japan.

“Daar sal ’n groot uittog van spelers wees wanneer Bok-kontrakte met wedstrydgeld vervang word.

“Daar kan nie van ’n speler wat tans ’n kontrak ter waarde van R3 miljoen het, verwag word om hier te bly as hy 50% van daardie gewaarborgde inkomste verloor nie.”

Hy sê hoewel die wedstrydgeld verhoog gaan word, gaan baie min spelers in elke toets speel.

“Vermeulen en (Malcolm) Marx is sterspelers en nie een van hulle het vanjaar in elke toets gespeel nie, so hoekom sal hulle in Suid-Afrika bly?

“Ek vind die verandering vreemd. Twee van die kleinste rugbyspelende lande, Nieu-Seeland en Ierland, is onderskeidelik eerste en tweede op die ranglys.

“Hul afrigters en spelers word almal deur (die nasionale beheerliggaam) betaal en hulle moet in die land bly om vir die nasionale span in aanmerking te kom.

“So, waarom sal ons in die teenoorgestelde rigting beweeg?”

Volgens White sal dit verreikende gevolge vir Bok-rugby hê as die beste spelers almal oorsee speel.

“By Verblitz (die span wat hy in Japan afrig) is ons gevra om Gio Aplon vry te stel buite die November-toetstydperk, sodat hy Kaapstad toe kon vlieg om ’n visum vir Frankryk te kry.

“Ek weet nie hoeveel Europese klubs gaan toelaat dat verskeie spelers elke seisoen dít doen nie. As daardie klubs nie die Bokke akkommodeer nie, gaan spelers die Maandag voor ’n toetsnaweek by die kamp aansluit, wat nie genoeg tyd laat om vir ’n toets voor te berei nie.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Bokke  |  Jake White  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Bulle  |  John Mitchell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.