Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake soek Wallaby-pos, Aussies sê nee

Rugby Australië (RA) het die voormalige Springbok-afrigter Jake White se “aanbod” van die hand gewys te midde van bespiegeling oor die toekoms van die beleërde Wallaby-breier, Michael Cheika.

Jake White, afrigter van Toyota Verblitz in Japan. Foto: Getty Images

RA het bevestig dat White die Wallabies se rugbybaas, Raelene Castle, “genader het om ’n gesprek te voer”, maar dat sy nie van die aanbod gaan gebruik maak nie.

“Raelene is deur Jake genader, maar daar sal nie ’n gesprek wees soos daar berig is nie,” het ’n woordvoerder van RA gesê.

White het na bewering aangebied om onmiddellik by Cheika oor te vat, sou RA in die mark wees vir ’n opvolger.

Daar word in Australië berig RA het aanvanklik besluit om met White te gesels, maar het koue voete gekry nadat dit in die media aan die lig gekom het.

Die Wallabies het Saterdag hulle swakste seisoen in 60 jaar met ’n groot loesing van 18-37 teen Engeland op Twickenham afgesluit.

Dit was die span se negende nederlaag in 13 toetse vanjaar, wat Cheika verder by ondersteuners en in die media in onguns laat verval het.

Daar word daarop aangedring dat Cheika die trekpas kry, sowat tien maande voor die Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Die beleërde Wallaby-breier, Michael Cheika. Foto: Getty Images

Cheika hou voet by stuk dat hy die regte man is om die Wallabies se boot deur dié onstuimige waters te lei, nadat hy die span in 2015 tot in die eindstryd van die WB-toernooi gevoer het.

White, wat die Springbokke se hoofafrigter was toe hulle die heilige graal van wêreldrugby in 2007 verower het, rig tans die Japanse span Toyota Verblitz af.

Hy het in 2012 en 2013 die Brumbies in die Superreeks afgerig, maar is onder ’n wolk van omstredenheid uit Canberra weg toe hy onverwags ’n kontrak met die Haaie gesluit het.

White is daarna in 2014 ook skielik by die Haaie weg toe hy en van die span se senior spelers glo koppe gestamp het. Hy het daarna sy loopbaan by Montpellier in Frankryk voortgesit, voor hy dáár met die Nieu-Seelander Vern Cotter vervang is.

White was voorheen een van die kandidate om Robbie Deans as die Wallabies se afrigter op te volg, maar Ewen McKenzie het destyds die pos gekry.

McKenzie het net ’n seisoen gehou voor hy die handdoek ingegooi het.

Cheika het toe die leisels by hom oorgeneem.

– Reuters, AFP, Foxsports.com.au.

Meer oor:  Jake White  |  Toetsrugby  |  Wallabies  |  Raelene Castle  |  Michael Cheika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.