Victor Matfield en Fourie du Preez wat die Bulle in die Superrugbyreeks brei? Aikôna, sê die voormalige Springbok-afrigter Jake White.

Jake White, voormalige Bok-afrigter, meen Victor Matfield is nie opgewasse om die Bulle af te rig nie. Foto: Gallo Images
White, skryf in ’n rubriek op die webtuiste alloutrugby.com, dat Matfield en Du Preez nog nie hul skoolgeld as afrigters betaal het nie. Daarom meen hy hulle sal nie van die Bulle ’n goeie span kan maak nie.
“John Mitchell het ’n langer CV as enigiemand op die Bulle se kortlys en het ’n wenrekord van 85% met die All Blacks gehad, maar kon vanjaar nie sukses met die Bulle behaal nie,” sê White.
“In dieselfde posisie sal twee ouens met byna geen ervaring dit nie maak nie, want hulle gaan hul foute op die hoogste vlak eerder as op skoolvlak maak.”
Matfield en Du Preez, wat hulle onder White se afrigting by die Bokke onderskeidelik as die voorste nr.5-slot en skrumskakel ter wêreld gevestig het, word as ikone van Suid-Afrikaanse rugby gereken.
White meen egter dit sal wees soos om Frik du Preez en Naas Botha die Bulle te laat afrig.

Die Russiese vrouerugbyspelers Victoria Shalabodina en Tatiana Mikhailova ontmoet Fourie du Preez verlede jaar in Pretoria. Foto: Gallo Images
“As iemand môre sê dat Naas en Frik op die kortlys is om die agter- en voorspelers by Loftus af te rig, sal mense sê dis belaglik. Maar wat is die verskil? Net omdat daardie spelers legendes van die spel is, beteken dit nie dat hulle kan afrig nie,” sê White.
Hy sê dat Matfield en Du Preez eerder op o.19-vlak moet begin afrig.
“Dink net hoe sterk die Bulle in 2028 sal wees as Fourie en Victor die Blou Bulle se o.19-span oor die volgende vyf seisoene afrig. Dis hoe dit 20 jaar gelede by skole gewerk het. Die ouens sou deur die stelsels gevorder het,” sê White.
Hy meen die kwessie is simptomaties van Suid-Afrikaanse rugby se swak afrigtingstrukture.
“Waar is ons afrigters en opvolgbeplanning? Hoe kan jy ’n stelsel hê waar iemand met geen ervaring bo almal anders oorweeg word? Die waarheid is dat daar dalk nie ’n stelsel is nie,” sê White.
“As ervaring van afrigting nie benodig word om op die kortlys te wees om ’n Superrugby-span af te rig nie, hoe ver is ons van ’n Bok-afrigter wat nog nooit vantevore afgerig het nie?”