Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake White: Ek het beslis verander

Die wysheid kom met die grysheid, maar daar is een ding in die Jake White-repertoire wat nie verander het nie: ’n onblusbare begeerte om te wen.

Die Bulle se nuwe direkteur van rugby is in die verlede as hardkoppig en eiewys beskou. Nie almal se koppie tee nie.

Jake White sal eersdaags sy meesterplan in werking stel by Loftus Versfeld. Foto: Getty Images

“Natuurlik het ek verander, ek is 56. Soos wat jy ouer word, besef ’n mens daar is eienskappe waaraan jy moet skaaf en ontwikkel.

“Ek het egter steeds dieselfde filosofie en begeerte om te wen. Ek wíl wen en vir dit is harde werk en hoë standaarde ononderhandelbaar.”

Dié voormalige Springbok-afrigter sal – ná die staat van inperking – by Loftus Versfeld aankom met massiewe verwagtinge.

Hy is ’n man wat al die heilige graal van Wêreldrugby verower het as Bok-afrigter en oral sukses behaal het waar hy spanne onder hande geneem het.

So iemand kan natuurlik ’n groot rol speel op Loftus, by ’n unie wat die afgelope dekade ’n leë trofeekas het.

White sê hy het die hoogste agting vir Blou Bul-rugby.

“Die Bulle het in die vorige dekade wonderlike spelers en ’n merkwaardige span gehad.

My uitdaging is om nie net weer ’n wenkultuur te vestig nie, maar om te verseker dat alles nie weer verlore gaan van die een generasie se oorgang na die volgende een nie.

“Dalk was die Bulle té bederf en het hulle die oog van die bal af gehaal.

“Daar is puik junior spelers wat op die voorgrond tree, maar die unie het terselfdertyd groot name soos Handré Pollard, Jesse Kriel, RG Snyman en Lood de Jager verloor.

“My uitdaging is om nie net weer ’n wenkultuur te vestig nie, maar om te verseker dat alles nie weer verlore gaan van die een generasie se oorgang na die volgende een nie.”

Hy sien daarna uit om hom te vestig in die “rugbymal-stad” Pretoria, benadruk White.

“My pa het by Tukkies studeer en ek het in Hatfield grootgeword. Dit is eintlik ’n kringloop wat voltooi word.

“Ek gaan nie van Kaapstad af pendel nie. Dit is belangrik om ook skole- en klubwedstryde in Pretoria by te woon en vir my om deel te word van die rugbygemeenskap.

“Pretoria is ’n ongelooflike rugbymekka. Ek het onlangs iewers gehoor daar is 47 rugbyvelde digby Lynnwoodweg.”

Om weer op Superrugby-vlak betrokke te raak, maak hom baie opgewonde, sê White.

Dit is iets wat hom in 2014 laas beskore was toe hy die Haaie in die kompetisie gebrei het.

Die franchises moet sterk wees vir die Bokke om sterk te wees.

“Ek het dit baie gemis. Dit was waardevol om in Frankryk en Japan af te rig, maar dit is nie Superrugby nie.

“Ek is veral opgewonde dat daar van volgende jaar af met die konferensiestelsel weggedoen word.

“Suid-Afrikaanse rugby is op ’n goeie plek ná verlede jaar se triomf in die Wêreldbeker-toernooi en daar is geen rede waarom die Bulle nie, soos in die verlede, aan die voorpunt kan wees van ’n gedugte Springbokspan nie.

“Die franchises moet sterk wees vir die Bokke om sterk te wees.”

Een van White se eerste take sal wees om ’n sterk kern spelers te werf met die oog op die 2021-seisoen.

Hy is tot 2023 se Wêreldbeker-toernooi gekontrakteer.

Meer oor:  Jake White  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.