Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake White se kalwers skitter teen Haaie

Covid-roes? Wat jy waar kry?

Ondersteuners se verwagtinge is gewoonlik gans te groot wanneer voorseisoense losmakers gespeel word.

Dit word sonder uitsondering gekenmerk deur ’n getjommel wat nooit aan die gang kom nie weens ’n magdom foute.

Die Bulle se Kurt-Lee Arendse word beetgekry deur ’n speler van die Haaie. Foto: Gallo Images

Maar toe tref die Bulle die Haaie op Loftus Versfeld Saterdagmiddag met ’n poging wat niemand sien kom het nie.

Dit is heeltemal te vroeg om los te trek met lofprysing en heldevererings nadat die Bulle die Haaie in die spanne se “Superfan”-ontmoeting met 49-28 getroef het.

Laat dit nietemin niks wegvat van die Bulle se onverwagse berekende en kliniese skittervertoning in die eerste helfte nie.

Jake White, die Bulle-breier, is dalk aansienlik nader aan die wenresep wat hy soek as wat selfs hy gedink het.

Die gedaanteverwisseling tussen die span wat Duane Vermeulen Saterdag op die veld gelei het en die een wat vroeër die seisoen in die Superrugby grotendeels geploeter het, is prysenswaardig.

Die Haaie-senter Jeremy Ward het in die vyfde minuut ’n verpligte tien minute langs die kantlyn vir ’n gevaarlike duikslag gekry.

Toe hy weer by sy spanmaats aansluit, was die tuisspan reeds met 21-0 voor.

Die Bulle was teen rustyd gerieflik 35-7 voor, maar het in die tweede helfte ritme en momentum ingeboet toe byna die hele beginspan op een slag vervang is.

Die Haaie is by die agterdeur in en het dié helfte met 21-14 “gewen”.

Gegewe die Bulle se totale oorheersing in die eerste helfte, wou die besoekers egter net skadebeheer in die tweede skof doen.

Daar was verskeie positiewe punte en uitblinkers vir die Bulle.

Die jong Blitsbok Kurt-Lee Arendse, ’n onbekende faktor op dié verhoog, se Bulle-debuut was voortreflik. Daar is steeds nie ’n plaasvervanger vir sulke vaart en vaardighede nie.

White se proefneming met Cornal Hendricks en Stedman Gans as senterpaar het ook vrugte afgewerp.

Hendricks was vol rugby in die 12-kanaal en Gans is, soos sy seweskollega Arendse, ’n handvol op die aanval.

Dit sal nie billik wees om uitblinkers in die Bulle-enjinkamer uit te sonder nie, maar White sal beslis opgewonde wees oor sy lostrio-kombinasie van Vermeulen, Arno Botha en Marco van Staden.

Puntemakers:

Bulle 49 (35): Drieë: Schalk Erasmus, Stedman Gans, Kurt-Lee Arendse (2), Travis Ismaiel, David Kriel (2). Doelskoppe: Morné Steyn (5), Chris Smith (2).

Haaie 28 (7): Drieë: Grant Williams, Marius Louw, Dan Jooste, Jaden Hendrikse. Doelskoppe: Curwin Bosch (2), Jordan Chait (2).

Meer oor:  Haaie  |  Jake White  |  Bulle  |  Kurt-Lee Arendse  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.