Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake White se seun het Blitsbok-drome
Jake White se seun Wesley hoop om in die toekoms vir die Blitsbokke uit te draf. Foto: Verskaf

Jake White, die Bulle se afrigter, se seun Wesley het hom vir ’n proeftydperk by die nasionale sewesakademie aangesluit en hoop om in die toekoms vir die Blitsbokke uit te draf.

Op 25-jarige ouderdom het Wesley, wat in 2013 aan Bishops in Kaapstad gematrikuleer het, al ’n paar draaie in die wêreld gemaak.

Ná skool het hy aanvanklik by die Westelike Provinsie se akademie aangesluit, maar kort voor lank het hy na Durban verhuis.

Jake White, afrigter van die Bulle. Foto: Gallo Images

Daar het Wesley, wat in daardie tyd die skuif van flank na haker gemaak het, vir die Haaie se o.19-span uitgedraf. Dit was in die tyd toe Jake die Durbaniete se direkteur van rugby was.

In 2015 het Wesley vir die Franse klubspan Montauban gespeel, voordat hy van 2016 tot 2019 aan die Lindenwood-universiteit in die Amerikaanse deelstaat Missouri studeer het.

Hy het die Amerikaners se studentespan in vyftienmanrugby en sewes verteenwoordig. Hy het ook saam met die Amerikaners se nasionale sewesspan geoefen.

Toe sy droom om Amerika op die rugbyveld te verteenwoordig egter die wind van voor kry, is hy na Engeland met die hoop om vir die Rose te speel. Hy kwalifiseer danksy sy ouma vir Britse burgerskap.

Maar met die Covid-19-pandemie het sy geboorteland na net die plek gelyk om sy drome van internasionale rugby vlerke te gee.

Uit die aard van die saak is dit baie anders as waaraan ek gewoond is, veral wat die fiksheid betref.
Wesley White

“Die eerste week (in Stellenbosch by die sewes) was baie lekker en ek het reeds baie geleer. Uit die aard van die saak is dit baie anders as waaraan ek gewoond is, veral wat die fiksheid betref,” sê Wesley.

“My droom is om ’n kontrak te kry en vir die Blitsbokke uit te draf. Daar is ’n Olimpiese Spele op die horison (in Julie), maar ek dink hulle (die Blitsbokke se afrigters) het reeds ’n goeie idee hoe daardie span sal lyk.

“Maar daar is ook ’n Wêreldbeker-toernooi (in sewes, in 2022 in Kaapstad) wat nog voorlê, wat dalk ’n meer realistiese mikpunt vir my is.

“Daar is nie baie spelers wat die geleentheid kry om hul land te verteenwoordig nie en ek sal so ’n kans met albei hande aangryp,” sê Wesley.

Schalk Burger. Foto: Getty Images

Hy sê dat hy as seun spelers soos die oud-Springbokke Schalk Burger en Frans Steyn bewonder het.

Wat moet Wesley doen om Neil Powell, afrigter van die nasionale sewesspan, en Marius Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by SA Rugby, te oortuig om hom te kontrakteer?

“Ek het gesien dat kultuur ’n baie belangrike ding by die Blitsbokke is. Hulle kyk na iemand om te bepaal of hy gaan inpas,” sê Wesley.

“Hulle roem hulle ook op hul fisiekheid en streef daarna om die beste te wees. As ’n voorspeler sal ek moet wys dat ek fisiek is en nie terugdeins om die harde werk te doen nie.”

Meer oor:  Jake White  |  Durban  |  Stellenbosch  |  Rugby  |  Sewes  |  Blitsbokke  |  Akademie  |  Bulle  |  Haker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.