Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake wil Bulle se gloriedae laat herleef
Die klipharde Thys Lourens was altyd onverskrokke in ’n Ligblou-trui. Foto: Gallo Images

As dit van Jake White afhang, sal die bekerkas in Loftus Versfeld se voorportaal kort voor Kersfees oopgesluit word om vir die Curriebeker staanplek te maak.

Dit sal natuurlik ’n heuglike en gedenkwaardige dag in die hoofstad wees, want die Ligbloues het laas in 2009 uit dié beker gedrink.

Menige Bulle-ondersteuner brom dié wendroogte is ongehoord.

Vir té lank word die eertydse kampioenspanne van Loftus met heimwee onthou.

Daarmee saam kom die debat wat soms om die vuur in Pretoria gevoer word: Was Thys Lourens se Noord-Transvaal van die 1970’s die beste span in die geskiedenis van die unie?

Of Naas Botha se bulspan van die laat 1980’s en vroeë 1990’s?

In Lourens se speeldae het Noord-Transvaal in die tydperk van 1968 tot 1981 net drie jaar (1970, 1972 en 1976) nié die Curriebeker verower nie (hy het dit wel in 1971 met Transvaal en 1979 met die WP gedeel).

Dié legendariese kantman en kaptein van die Ligbloues het van 1968 tot 1978 in agt eindstryde gespeel en was nie een keer aan die verloorkant nie.

Lourens sê dit is onbillik om die spanne uit verskillende eras met mekaar te vergelyk.

Hy was ’n keurder van die Ligbloues in die tyd wat Botha se Bulle Suid-Afrikaanse rugby oorheers het.

Naas Botha en sy mentor Buurman van Zyl kort nadat Noord-Transvaal die WP in 1980 se Curriebeker-eindstryd met 39-9 op Loftus Versfeld afgeransel het. Foto: Gallo Images

“Nee, jy kan nie sulke vergelykings maak nie. Alles verander en die omstandighede is ook nie dieselfde nie.

“Die span van die 70’s was ’n gedugte eenheid onder oom Buurman (Van Zyl).

“Kyk, jy kry afrigters, maar hy was ’n breier. Hy het geglo in die basiese beginsels, fiksheid en het ’n ongelooflike manier gehad om met spelers te werk en die beste uit hulle te kry.”

Noord-Transvaal se volgende segetog het in 1987 begin nadat die beker van 1982 tot 1986 vyf seisoene agtereenvolgens by Nuweland gestaan het.

“Jy kry van tyd tot tyd uitstaande spelers soos Frik du Preez en Naas Botha. Naas was ’n frats,” sê die 77-jarige Lourens.

Die opskudding wat die Piesangboere in 1990 op Loftus gelewer het, het Noord-Transvaal destyds van vyf opeenvolgende gloriejare ontneem.

Hulle het in 1989 die beker met die Westelike Provinsie gedeel.

Die oud-heelagter Johan Heunis, ’n sleutelspeler in daardie era, sê hy was baie bevoorreg om ’n lid van dié span te wees.

“Daar was ’n goeie klomp senior spelers bymekaar en daar het ook uitstaande jong outjies soos Robert du Preez en Gerbrand Grobler op die toneel verskyn.

“Noord-Transvaal het, danksy ’n baie sterk Carltonbeker-klubkompetisie, uitstekende diepte gehad.

Nóg bekervreugde op Loftus. Wyle Jan Lock hou sy kaptein, Naas Botha, omhoog. Foto: Gallo Images.

“En dan natuurlik daardie agttal vol ysters soos Uli (Schmidt), Burger (Geldenhuys), Jan Lock, Pote Fourie en Adri Geldenhuys.

“Dit het dinge baie makliker gemaak vir ’n agterlyn om agter so ’n pak te speel.”

Om alles te kroon, was die genie Hendrik Egnatius Botha die span se generaal.

Burger Geldenhuys, die voormalige Bok-flank wat in 11 Curriebeker-eindstryde gespeel het, sê dit was ’n groep spesiale spelers wat in daardie tydperk bymekaar gekom het.

“Ons het ’n uitstaande agttal gehad. Toe Suid-Afrika in 1989 teen die Wêreldspan gespeel het, kon jy Noord-Transvaal se pak, met die uitsondering van Gert Smal en Jannie Breedt, vir die Bokke gekies het.”

Sal daar ooit weer sulke vonkelwyn-spanne wees in die moderne era?

Vir eers sal dit lekker wees as White se Bulle die wendroogte kan breek.

“Dit is omtrent tyd nè? Nee maggies, ’n ou kan ook nie só lank wag nie,” sê Lourens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.