Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake wil Nuweland ‘met respek’ groet

Jake White het die afgelope week midde-in al die praatjies oor die Bulle wat Saterdag straks van Nuweland afskeid neem, ’n gevoel van heimwee gekry na ’n roemryke dag in Frankryk, 23 jaar gelede.

Jake White hoop die Bulle kan op gepaste wyse van Nuweland afskeid neem. Foto: Gallo Images

Meer spesifiek: 22 November 1997. Die dag wat Nick Mallett se Springbokke die Hane teen die verwagtinge in met 52-10 in Parys afgeransel het.

Die meeste Springbok-ondersteuners sal onthou hoe die vleuel Pieter Rossouw daardie dag vier keer gaan druk het.

Dit was ook veronderstel om die tuisspan se afskeidspartytjie in die Parc des Princes-stadion te wees.

Dié stadion het as die “prinses” van Franse rugby bekend gestaan en die Bok-loesing daardie dag was ’n bitter pil vir die Hane.

Die Les Bleus het daarna die Stade de France sy nuwe rugbytuiste gemaak.

“Ek was gelukkig om daardie dag by Parc des Princes te wees (as ’n lid van Mallett se afrigtingspan).

“Ons het meer as 50 punte aangeteken en jy kan dit nooit verander of uit die rekordboeke vee nie.

“Wie weet wat die telling Saterdag sal wees wanneer die Bulle en die Westelike Provinsie vir ’n laaste keer op Nuweland speel?”

Wie weet wat die telling Saterdag sal wees wanneer die Bulle en die Westelike Provinsie vir ’n laaste keer op Nuweland speel?
Jake White

White, hoofafrigter van die Bulle, sê hulle is van voorneme om Nuweland met die nodige respek en erkenning te groet.

Hopelik sal dit onthou word as ’n Bulle-span wat op sy beste was en vir die eerste keer in tien jaar die Streeptruie tuis in die Curriebeker-kompetisie kan klop, het White die hoop uitgespreek.

“Ek hou van tradisie en dink aan al die groot name wat oor baie jare heen op daardie veld gespeel het.

“Om nie te praat van die titaniese tweestryde wat tussen die Bulle en die WP op Nuweland afgespeel het nie.

“Dit is die laaste keer wat ons op Nuweland sal speel. Dit is hartseer om te dink die stadion sal volgende jaar dié tyd nie meer bestaan nie.”

’n Wegoorwinning sal die Bulle, wat die Curriebeker-veldtog met ’n voorsprong van vier ligapunte begin, ’n aansienlike hupstoot gee.

Daar is wel ’n kans dat die Ligbloues in Januarie in die Curriebeker-halfeindstryd of -eindstryd op Nuweland kan speel. Vir dít om te gebeur, sal die Streeptruie egter bo die Bulle op die puntelys moet eindig.

Die Ligbloues het danksy hul suksesvolle Superrugby Unlocked-veldtog 23 ligapunte na die CB-reeks oorgedra teenoor die WP se 19.

• White het as Springbok-afrigter vyf toetse op Nuweland gehad waarvan Suid-Afrika in vier – teen Ierland, Nieu-Seeland, Australië en Namibië – aan die wenkant was. Sy enigste nederlaag daar was in 2006 toe Frankryk met 36-26 baas was teen die Bokke.

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby  |  Curriebeker-Reeks  |  Jake White  |  Wp  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.