Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jammer, Cheetahs nóg watersport wag

As die Cheetahs hulself hoegenaamd ’n kans wil gee om Ulster te klop in die spanne se Pro14-wedstryd in Belfast, sal hulle harder moet werk vir balbesit en meer daarmee moet doen as die afgelope naweek teen Leinster.

So sê Hawies Fourie, hul breier, in die aanloop tot Saterdag se stryd in die Kingspan-stadion.

Gepantser teen die koue. Hawies Fourie verlede week voor die Cheetahs se stryd teen Leinster in Dublin. Foto: Gallo Images

“Ek was teleurgesteld in die eerste helfte teen Leinster, want ons het heeltemal te veel foute gemaak en vier lynstane verloor.

“Hoewel ons saam met die wind gespeel het kon ons nie uit ons eie kwartgebied kom nie, om nie eers te praat van ons helfte nie,” sê Fourie.

“Ons besit in die eerste helfte was sekerlik minder as 20% en dan het jy min geleenthede om druk te verlig en weg te kom van jou doellyn af.

“In die tweede helfte het ons begin oorheers in die skrums en as gevolg daarvan kon ons terugkom in die wedstryd en twee drieë in die laaste halfuur druk. Ons het goeie rugby teen die wind gespeel.

“Ons wil daarop voortbou. Dis nooit lekker om te verloor nie, maar ons was darem nie net negatief ná die wedstryd nie.

“As ons kan aanhou speel soos in die tweede helfte, in daardie soort toestande, is ons op die regte pad.”

Dit lyk asof nat toestande weer die naweek die Cheetahs se voorland is, met Belfast wat elke dag hierdie week reën gekry het.

Dit reën al heelweek hier in Belfast – nie verskriklik baie op een slag nie, maar wel aanhoudend – so die bal gaan weer nat en glad wees.
Hawies Fourie

Ná verlede week se waterkaskenades in Dublin hoop die Cheetahs om die week beter voorbereid te wees op die toestande.

“Daar word vir die hele Saterdag reën voorspel. Dit reën al heelweek hier in Belfast – nie verskriklik baie op een slag nie, maar wel aanhoudend – so die bal gaan weer nat en glad wees.

“Ons speel laat in die aand so daar gaan ook dou op die veld wees en al reën dit nie sal die veld in elk geval nat wees. Al ons oefeninge was in die reën, so ons kry darem goeie voorbereiding in dié weer.

“Ons het ons manier van speel aangepas en almal is op dieselfde golflengte. As ons min foute maak, gebiedsvoordeel kan kry en ons balbesit goed gebruik, glo ek ons sal onsself geleenthede gee om punte aan te teken en ’n kans hê om die wedstryd te wen,” sê Fourie .

Die Cheetahs is met 31 punte derde in Afdeling A, gevolg deur die Glasgow Warriors op 29.

Die Warriors kom Saterdag te staan teen die Dragons (vyfde met 18 punte). Dis ’n wedstryd wat die Warriors behoort te wen.

“Ons ding mee met Ulster en Glasgow vir die tweede en derde plek in ons afdeling, so dis belangrik om die wedstryd te wen.

“ ’n Oorwinning sal ons ’n paar punte nader aan Ulster (37) kry en as ons die groepwedstryd in die tweede plek afsluit, sal ons ’n kwarteindstryd by die huis kry. Dis natuurlik makliker as om weer oorsee te gaan speel.”

Meer oor:  Hawies Fourie  |  Ulster  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.