Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke sonder Serfontein
Bok-ster speel vir Franse klubspan

Die Springbokke sal sonder hul ster-agterspeler Jan Serfontein na Europa toer.

Dié Bok-binnesenter het hom die afgelope week by sy Franse klubspan Montpellier aangesluit.

Jan Serfontein wys vroeër vanjaar hakskene vir ’n Fransman op Ellispark.

Serfontein mag wel as ’n oorsese speler vir die Springbokke speel omdat hy voldoen aan die vereiste van 30 toetse. Die feit dat hy onbeskikbaar is vir dié toer is straks omdat die Bok-bestuur met Montpellier ooreengekom het om Serfontein vir eers af te staan.

Die Springbok-senter het met sy aankoms in Montpellier sy mediese toetse afgelê en geslaag, waarna sy kontrak amptelik in werking getree het. Serfontein sal sy rugby vir die volgende drie seisoene vir Montpellier speel.

Sy afwesigheid is ’n yslike terugslag vir die Bokke. Hy was vanjaar Suid-Afrika se voorste agterspeler.

Nog ’n potensiële terugslag het die Bokke getref toe die ysterflank Jean-Luc du Preez gister in die Curriebeker-eindstryd met ’n enkelbesering van die veld is.

Die 24-jarige Serfontein, wat die Bokke in 35 toetse verteenwoordig het, het hom by Montpellier aangesluit by twee van sy gewese Junior Bok-spanmaats, Paul Willemse en Wiaan Liebenberg. Hulle was almal in die Ju­nior Bokke se groep wat in 2012 die Junior Wêreldtitel verower het.

Lukhanyo Am, senter van die Haaie, se lang gewag om ’n Bok te word, is straks nou verby. Hy sal vandag, sowat vyf maande nadat hy sy wangbeen gekraak en hy hom aan die Bok-groep vir die toetse teen Frankryk moes onttrek het, deel wees van die Bokgroep van 34 wat môre in Johannesburg sal begin met hul voorbereiding vir November en Desember se toer na die Noordelike Halfrond.

Am het sy wangbeen op 27 Mei in ’n Superrugby-wedstryd teen die Stormers gekraak. Hy is deur Lionel Mapoe vir die toetse teen die Hane vervang. Mapoe kon sedertdien weens sy kontrak met sy Japanse klubspan, Kubota Spears, nie vir die Bokke oorweeg word nie.

Serfontein se afwesigheid kan ook die deur vir Rohan Janse van Rensburg laat oopswaai. Van Rensburg het einde verlede jaar in Cardiff sy Bok-buiging gemaak toe hy en Francois Venter die senterpaar teen Wallis gevorm het. Hy is die afgelope tyd aangesê om sy visum in orde te kry.

Allister Coetzee, afrigter van die Springbokke, het verskeie
opsies in die middelveld, met Handré Pollard wat een van hulle is.

  • Goeie nuus vir die Bokke is dat Duane Vermeulen vinniger van ’n liesoperasie herstel het as wat aanvanklik verwag is.

Hy het sy terugkeer gister as ’n plaasvervanger vir Toulon in ’n kragmeting met Brive gemaak.

Saru het vroeër aangedui dat hy weens die besering nie vir die toer oorweeg sou word nie.

  • As Robert du Preez nie saam met sy broers, Dan en Jean-Luc du Preez, slegs die derde stel broers van drie word wat vir die Bokke gekies word nie, sal hy as ’n troosprys die Barbarians op 4 November op Twickenham in ’n wedstryd teen die All Blacks verteenwoordig. Willie, Carel en Michael du Plessis, Jaap, Dolf en Martiens Bekker en John, Dick en Lammetjie Luyt was die ander drietal broers om die Bokke te verteenwoordig.
Meer oor:  Montpellier  |  Springbokke  |  Jan Serfontein  |  Europa  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.