Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jan Serfontein vort oor Saru voete sleep

Die Springbok-senter Jan Serfontein is verlore vir Suid-Afrikaanse rugby, maar in dié geval is dit glo nie die aantrekkingskrag van die euro wat sy kop Frankryk toe laat staan nie.

Jan Serfontein sal aan die einde van die jaar sy loopbaan in Frankryk voortsit. Foto: Gallo Images

Daar word verneem Serfontein het weens onsekerheid wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) geskep het, uiteindelik besluit om sy loopbaan oorsee voort te sit.

Hy sal hom aan die einde van die jaar by Montpellier of Toulon aansluit.

“Saru is al in November verlede jaar versoek om met Jan te kommunikeer oor ’n nuwe kontrak. Hy het ’n maand of wat gelede eers ’n aanbod gekry, maar dit was toe reeds te laat,” het ’n betroubare bron gesê.

Serfontein, wat Saterdag sy 24ste verjaarsdag gevier het, het volgens inligting ’n “uitstekende” gesamentlike aanbod van Saru en die Bulle ontvang.

Sy drieledige kontrak (tussen Saru, die Bulle en speler) verstryk aan die einde van die jaar. Hy is ’n nuwe aanbod tot 2019 aangebied.

“Dit is regtig ’n baie billike pakket, maar dit is merendeels onsekerheid wat die grootste rol in Jan se besluit gespeel het. Dit gaan nie hier oor die geld nie.

“Saru moes groter erns aan dag gelê het,” sê die bron.

Dit is merendeels onsekerheid wat die grootste rol in Jan se besluit gespeel het.

Xander Janse van Rensburg, die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se hoëprestasiebestuurder, het bevestig Serfontein het die gesamentlike aanbod van die hand gewys.

“Dit is ’n groot slag vir ons. Ons sou Jan se dienste graag wou behou het.

“Hy het aangedui die tyd is ryp om oorsee te gaan speel en die BBM respekteer sy besluit.”

Janse van Rensburg sê Serfontein het aangedui hy sal eerder vroeër oorsee wil gaan met die opsie om later sy loopbaan in Suid-Afrika af te sluit.

Die Franse koerant Midi Libre het vroeër vanjaar berig Serfontein het ’n kontrak van drie jaar met Montpellier beding, maar dié klub sowel as die Bulle het dit destyds as ’n gerug afgemaak.

’n Woordvoerder van Saru het gesê hulle gaan “nie kommentaar lewer op aantygings nie.”

“Jy (die media) kan Jan se agent kontak daaroor.

“Saru kan wel bevestig dat Jan besluit het om nie sy nasionale kontrak te hernieu nie.”

Die senter, wat in 2012 as die voorste o.20-rugbyspeler in wêreldrugby gekroon is ná sy skitterspel by die Junior Wêreldtoernooi, het 26 toetse gespeel.

Hy het weens ’n handbesering in 2015 in die Wêreldbeker-toernooi laas ’n toets gespeel.

Hy sal wanneer hy sy tasse vir Frankryk pak, hoop om meer as 30 toetse op die kerfstok te hê.

Saru het onlangs sy kiesbeleid verander, wat behels dat slegs oorsese spelers wat in 30 of meer toetse gespeel het ná 1 Julie kwalifiseer om vir die Springbokke te speel.

  • Janse van Rensburg het intussen gesê onderhandelings met die Bok-slot Lood de Jager om sy dienste langer vir die Bulle te behou, is in ’n gevorderde stadium.

De Jager het, soos in Serfontein se geval, ’n gesamentlike aanbod van Saru en die Bulle om te oorweeg.

Meer oor:  Frankryk  |  Jan Serfontein  |  Bulle  |  Superrugby  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.