Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jannie du Plessis oefen saam met Leeus

Die voormalige Springbokstut Jannie du Plessis het Maandag sy eerste oefensessie saam met sy nuwe spanmaats van die Leeus in die Johannesburg-stadion gehad.

Jannie du Plessis
Jannie du Plessis. Foto: Gallo Images

Skrum Jannie, skrum, gaan waarskynlik aanstaande jaar ’n slagspreuk op Ellispark wees wanneer Du Plessis, wat die laaste paar jare vir Montpellier in Frankryk gespeel het, sy terugkeer tot die Suid-Afrikaanse rugbyvelde maak.

Hy het voorheen hier plaaslik vir die Vrystaat en die Haaie diens gedoen, maar was toe ook een van die talle Suid-Afrikaanse spelers wat in Europa beland het om hul loopbane daar voort te sit.

Du Plessis het vroeër vandeesmaand 37 jaar oud geword en is skaars ’n katspoegie weg van dubbel die ouderdom van sommige van die jong stutte wat ook deel is van die Leeus se oefengroep.

Jannie du Plessis (naaslinks, voor) en Carlu Sadie (heel links, voor) is twee van die Leeus se stut-aanwinste vir die 2020-seisoen. Sadie het as leenspeler van die Westelike Provinsie reeds vanjaar die Leeus uitgedraf. Foto: Twitter | Emirates Lions

Op die oefenfoto van die Leeus-stutte spog Du Plessis met ’n stewige snor, wat sonder twyfel vir die Movember-veldtog gekweek is.

Soos Du Plessis het die Kapenaar Carlu Sadie hom ook by die Leeus aangesluit vir die Super-seisoen.

Hy was vanjaar deel van die Leeus se Super-veldtog as leenspeler en het toe teruggekeer na die Westelike Provinsie vir die Curriebeker-seisoen.

Die loskopstut Dylan Smith, wat vanjaar die grootste deel van die Super-reeks met verskeie beserings misgeloop het, was ook Maandag een van die klomp voorrymanne wat Du Plessis by sy nuwe tuiste in die Goudstad verwelkom het.

Die ander stutte in die groep is Johannes Jonker, Sti Sithole, Asenathi Ntlabakanyo, Frans van Wyk, Keagan Glade, Nathan McBeth en Leo Kruger.

Nog ’n oud-Bok, Julian Redelinghuys, sal saam met die voormalige Blou Bul-stut Wessel Roux, wat die laaste klompie jare hand bygesit het met die Leeus se junior spanne, die mentors en afrigters van die stutte wees.

Pogings om inligting by die Leeus te kry oor hoe lank Du Plessis se kontrak is, was vrugteloos.


Meer oor:  Leeus  |  Jannie Du Plessis  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.