Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jannie en Carlü kan Leeus spierkrag gee

Jannie du Plessis kan ná ’n afwesigheid van vyf jaar na Suid-Afrika terugkeer om vir die Leeus in die Superreeks te speel.

Die 37-jarige mediese dokter van Montpellier, asook die Westelike Provinsie se Carlü Sadie, is in gevorderde gesprekke met die Leeus om hul vaskopspens ná Jacobie Adriaanse se uittrede aan te vul.

Jannie du Plessis (links) saam met sy broer Bismarck (regs) en Frans Steyn (middel) nadat Montpellier in 2016 die Europese Uitdaagbeker verower het. Foto: Getty Images

Du Plessis het in 2015 laas vir die Haaie in die Superreeks gespeel, waarna hy hom ná dieselfde jaar se Wêreldbekertoernooi by Montpellier aangesluit het.

Hy wag vir die nodige goedkeuring van Montpellier om hom later by die Leeus se Supergroep vir 2020 se reeks aan te sluit. Die boerseun van Bethlehem moet ook nog mediese toetse slaag, wat nie as ’n probleem beskou word nie.

Voor die Wêreldbeker in Japan was daar sprake dat Du Plessis voortaan eerder meer by afrigting betrokke sal raak, maar hy het die laaste tyd ’n tweede asem gekry.

Hy sit vandag saam met sy broer Bismarck du Plessis op die bank wanneer hul Franse klubspan in Galway teen die Ierse span Connacht in ’n Kampioenebeker-kragmeting speel.

Jan Serfontein, wat weens ’n besering nie vir die Wêreldbeker in Japan beskikbaar was nie, is saam met Paul Willemse, Nicolaas Janse van Rensburg, Jacques du Plessis en Henry Immelman die ander Suid-Afrikaners wat saam met die Du Plessis-broers na Galway gereis het.

Jannie se fiksheid en sy fisieke kondisie is dié week deur ’n ingeligte as goed aan Rapport beskryf.

Met drie Wêreldbekers, 2007, 2011 en 2015 s’n, op sy kerfstok kan hy volgende jaar net soveel van die veld af as daar op vir die Leeus werd wees as sy onderhandelinge wel suksesvol afgehandel word.

Die 22-jarige Sadie kan met sy skuif waardevolle ervaring saam met Du Plessis opdoen.

Sadie was verlede jaar as ’n leenspeler van die WP een van die Leeus se staatmakers in die Superreeks.

Die WP het hom daarna versoek om vir die Curriebekerreeks na die Kaap terug te keer, maar dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat hy nou ’n permanente skuif na Johannesburg sal maak.

Met vaskoppe soos Frans Malherbe, Wilco Louw en Michael Kumbirai sal Sadie in 2020 nie soveel speelkans by die Stormers as in die Leeus-trui kry nie.

Afgesien van Sadie en Jannie, sal die Leeus se nuwe Superhoofafrigter, Cash van Rooyen, ook uit vaskoppe soos Johannes Jonker en Frans van Wyk kan kies.

Van Rooyen het sy Supergroep reeds met spelers soos die Bulle se skrumskakel André Warner, die Westelike Provinsie se senter Dan Kriel en Junior Bok-losskakel James Mollentze ná die Curriebeker versterk. Mollentze kan ook senter speel.

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby  |  Carlü Sadie  |  Jannie Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.