Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jantjies: Kospak lekker, maar dis tyd vir rugby

Is jy ’n Mexi-can of ’n Mexi-can’t?

Dié vraag, uit die rolprent Once Upon a Time in Mexico, kom soms onwillekeurig by ’n mens op wanneer jy luister na hoe moeilik dit later vanjaar vir Suid-Afrika se spelers gaan wees om met die Aussies en Kiwi’s in die Rugbykampioenskap mee te ding vanweë die feit dat plaaslike spelers vyf maande laas kon speel of kontak-oefeninge doen.

Elton Jantjies kan nie wag om weer in ’n wedstrydsituasie pale toe te korrel nie. Foto: Gallo Images

Elton Jantjies, die Springbok-losskakel, meen egter die Suid-Afrikaners kán hulself laat geld indien die toernooi in November en Desember voortgaan.

Trouens, hy glo die ses maande se gedwonge rus, teen die tyd wat plaaslike rugby hopelik aanstaande maand hervat, was ’n goeie ding en behoort ook nie te verhoed dat die Springbokke kontinuïteit inboet ná verlede jaar se verowering van die Wêreldbeker nie.

“Daar is tyd om voort te bou op die WB-toernooi,” sê hy.

“Ons het Superrugby begin speel en toe tref die koronavirus ons, maar ek dink dit was ’n geleentheid om van beserings te herstel en ook ons spel onder oë te neem.

“Ons het belyningsvergaderings met coach Rassie (Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby) en coach Jacques (Nienaber, die Bok-afrigter) gehad en die dieetkundiges het ook in kontak gebly met ons.

“Natuurlik sou ons graag nou al in die Rugbykampioenskap wou speel, maar dis van ons weggeneem. Ons moet nou die spel bestudeer en ons kennis opknap.”

Vir die 30-jarige Jantjies is dit maklik om gesonde perspektief te behou wanneer hy die verwoesting wat deur Covid-19 gesaai is, onder oë neem. Om nie kos op die tafel te hê nie, is immers ’n baie groter probleem as rugby wat van jou weggeneem word.

Daarom was hy Saterdag aan die woord by ’n liefdadigheidsinisiatief by die Rosmead SuperSpar in die Kaap, waar hy saam met ander huidige en oudspelers – in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Rugby Legendesvereniging – as deel van die #RugbyUnited-veldtog kospakkies vir behoeftige gemeenskappe gepak het.

Die rugbygemeenskap het Saterdag in Kaapstad sy hart oopgemaak deur kospakkies te pak as deel van die #RugbyUnites-veldtog. Foto: Verskaf

’n Handvol Stormers, insluitend die Bok-kaptein, Siya Kolisi, het saam met legendes soos Jean de Villiers, John Smit, Percy Montgomery en Corné Krige, hand bygesit.

“Ons het saam met die Legendes ’n veldtog begin waar ons ’n duisend kospakkies wil pak. Ek het die Leeus betrokke gekry en toe besluit om die ander franchise-spanne uit te daag.

“Almal het die uitdaging aanvaar en ons het as die rugbygemeenskap ’n familie geraak en #RugbyUnite begin,” sê hy.

“Dit maak ’n mens se hart warm om te sien hoe jy iets kan gee aan mense wat tans sukkel.”

Wedywering en ’n bietjie vyandigheid op die veld is egter ook iets waarna Jantjies baie uitsien, al het hy al dié tyd saam met sy vrou en kinders geniet.

“Ek kan nie méér positief en opgewonde daaroor wees nie,” sê hy oor die vooruitsig om weer te kan speel.

“Om net te kon hoor dat ons weer kan oefen, al was dit net in klein groepies, was heerlik. Dit was ’n geleentheid om uit die huis te kom en die ouens te sien, al was daar perke.”

Dis nie so erg dat daar aanvanklik agter geslote deure gespeel sal word nie. “Ons gaan maar net moet aanpas. As ’n rugbyspeler wil jy immers rugby speel en kan jou fokus nie ekstern wees nie,” sê Jantjies.

“Uiteraard sou ons baie graag ons ondersteuners wou sien, maar ten minste sal hulle op TV kan kyk hoe ons speel. Almal wag nét vir ons.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Elton Jantjies  |  Kospakkies  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.