Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jantjies: ‘Marx as kaptein die regte besluit’
Malcolm Marx gaan die Leeus in Warren Whiteley se afwesigheid lei. Foto: Gallo Images

Hy is ’n leier, ’n diener, ’n spanman en ’n topspeler en daarom was dit vir Swys de Bruin, die Leeus se breier, glad nie moeilik om vir Malcolm Marx met die kapteinskap toe te vertrou nie.

Marx is Donderdag op ’n ietwat verrassende wyse as die Leeus se kaptein aangewys in die afwesigheid van Warren Whiteley, wat Saterdag ’n borsspierbesering opgedoen het. Die Leeus het met 17-19 teen die Stormers in Kaapstad verloor.

Die verwagting was dat die onderkaptein, Elton Jantjies, die leisels sou oorneem vir die Leeus se eerste tuiswedstryd van die seisoen, Saterdag teen die Bulle op Ellispark.

Hoewel De Bruin sy lof behoorlik besing het, wil Marx sy praatwerk liefs op die veld doen.

“Ek weet nie regtig wat om te sê nie, ek praat nie regtig baie nie,” sê die Springbok-haker.

“Dit is moeilik om in Wazza se voetspore te volg, hy is een van die beste kapteins wat jy kan kry.”

Tog glo De Bruin Marx sal hom goed van sy taak kwyt.

As ek na dié spiere kyk, het ek nie ’n ander keuse gehad as om hom kaptein te maak nie.
Swys de Bruin

“As ek na dié spiere kyk, het ek nie ’n ander keuse gehad as om hom kaptein te maak nie,” skerts De Bruin.

“Op ’n ernstige noot, dit is vir my ’n groot voorreg om Malcolm as kaptein aan te kondig. Dit was ’n eenparige besluit.

“Elton bly die adjudant, terwyl ons ander leiers ook het soos Kwagga Smith, Lionel Mapoe, Courtnall Skosan en Dylan Smith.

“Malcolm en Elton is baie gewild in die span. Dit is wel nie net die gewilde besluit nie, dit is die regte besluit.

“Hy is ’n stil ou soos wat ons hom ken, maar tussen sy spanmaats is dit ’n ander kwessie. Hy het die regte aura.

“Malcolm sal met die skeidsregter praat en die span kalm hou, terwyl Elton steeds die besluite op die veld sal neem. Dis is soos wat dit met Warren ook was,” sê De Bruin.

Gelukkig is daar baie ouens op die veld wat my sal help. Ek hou nie daarvan om te praat as ek niks het om te sê nie.
Malcolm Marx

Marx sê die kapteinskap sal sy spel nie negatief beïnvloed nie.

“Gelukkig is daar baie ouens op die veld wat my sal help. Ek hou nie daarvan om te praat as ek niks het om te sê nie,” sê Marx.

“Om die spel te speel, is steeds die belangrikste deel van rugby. Kapteinskap gaan daaroor om leiding te verskaf. Dít doen jy deur die voorbeeld te stel.”

Kom leierskap natuurlik vir hom? Hy huiwer voor hy antwoord.

“Ek weet nie, dalk ...”

Swys de Bruin

“Ek sal namens hom antwoord, hy is te nederig om daardie vraag te beantwoord,” kom De Bruin tot sy redding.

“Beslis. Hy is ’n diener, hy is ’n leier, hy is spanman, ’n topspeler.”

Jantjies is dit met De Bruin eens.

“Dit is beslis die regte besluit. Malcolm het dieselfde kalm teenwoordigheid as Warren,” sê Jantjies.

“Ons het baie leiers in die span en hierdie is ’n groot geleentheid vir Malcolm om in ’n ander aspek van sy spel te groei, ek sien uit om te sien wat hy kan doen.”

De Bruin het drie veranderinge aan sy beginspan aangebring vir die Jukskei-derby.

Hacjivah Dayimani is op agtsteman in Whiteley se plek gekies, Aphiwe Dyantyi vervang Courtnall Skosan op linkervleuel en Rhyno Herbst begin op slot in Marvin Orie se plek.

Orie het ’n ligte liesbesering, terwyl Dyantyi se insluiting deel van die rotasiebeleid is.

Die Springbok-skrumskakel Ross Cronjé is ook terug ná ’n besering en is op die plaasvervangersbank ingesluit. Die senter wat die Leeus by die Bulle geleen het, Franco Naudé, is ook op die plaasvervangersbank ingesluit en hy kan sy eerste Super-kragmeting vir sy nuwe span teen sy ou span speel.

Leeus-span:
 Andries Coetzee, Ruan Combrinck, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Nic Groom, Hacjivah Dayimani, Marnus Schoeman, Kwagga Smith, Stephan Lewies, Rhyno Herbst, Carlu Sadie, Malcolm Marx (k), Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Pieter Jansen, Sti Sithole, Frans van Wyk, Robert Kruger, Vincent Tshituka, Ross Cronjé, Franco Naudé, Courtnall Skosan.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Malcolm Marx  |  Johannesburg  |  Haker  |  Kaptein  |  Rugby  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.