Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jantjies ‘rus’ net; Swiel skop nou

Die besluit om die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies nie vir Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Leeus op Ellispark te kies nie, het niks met sy spelpeil te make nie, sê John Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie.

Dobson het Woensdag verras deur vir Godlen Masimla in die nr. 9-trui te kies en Paul de Wet as die skrumskakel op die plaasvervangersbank aan te wys.

Tim Swiel slyp aan sy stelskopwerk op Nuweland. Hy neem daardie taak by Damian Willemse oor vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Leeus op Ellispark. Foto: Gallo Images

“Ons het reeds twee weke gelede beplan dat Godlen en Paul in die wedstryd gaan speel,” sê Dobson.

“Al drie is soortgelyke skrumskakels, wat goed is vir die spelpatroon waarvolgens ons speel. Ek was deeglik bewus dat Godlen en Paul nie genoeg speelkans kry nie. Paul en Herschel sal volgende week (teen die Pumas) speel.”

Tim Swiel is as Masimla se skakelmaat gekies omdat Damian Willemse heelagter toe geskuif is weens die besering wat Warrick Gelant opgedoen het.

“Damian het al toetsrugby op heelagter gespeel, so dis niks nuut vir hom nie. Baie mense dink in elk geval dis waar hy behoort te speel,” sê Dobson.

“Tim het baie goed gevaar wanneer hy hierdie seisoen van die plaasvervangersbank af opgestuur is. Hy bestuur die spel baie goed.”

Kade Wolhuter het las van ’n skouerbesering en kon daarom nie vir die losskakel-posisie oorweeg word nie.

Ek slaan vir Damian hoog aan en ons is baie tevrede met sy groei oor die laaste klompie weke.

Willemse is van die taak van stelskopwerk onthef. Swiel sal die korrelwerk op Ellispark doen.

Willemse het in verlede naweek se nederlaag van 20-22 teen die Bulle op Nuweland met net twee uit vyf skoppe pale toe geslaag. Daar kon dié seisoen nie op hom staatgemaak word om die telbord aan die rol te hou nie.

As Gelant fiks was, sou hy waarskynlik egter steeds die losskakel gewees het.

“Ek slaan vir Damian hoog aan en ons is baie tevrede met sy groei oor die laaste klompie weke. Ons moet ons nie blindstaar teen wat voor die hand liggend is nie. Sy stelskopwerk is benede standaard en ons het daardie gesprek met hom gehad,” sê Dobson.

“Teen die Bulle het hy ’n paar strafskoppe verbrou en die bal van ’n afskop af aangeslaan, maar sy bestuur van die spel was goed. Ons is tevrede met sy vordering.

“Wat opwindend is, is dat hy baie meer ontspanne lyk wanneer hy soos Willie le Roux by die Springbokke uit die heelagter-posisie die eerste ontvanger van die bal raak. Hierdie skuif kan in ons guns werk.”

Die WP gaan nie op die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies se opportunisme kan staatmaak in Saterdag se wedstryd teen die Leeus op Ellispark nie. Foto: Gallo Images

Presies hoe hierdie skuiwe die WP se taktiese skopwerk gaan beïnvloed, sal gesien moet word.

Dit is een van die sterkpunte van die Streeptruie se spel en iets waaraan geskaaf word met die oog op volgende jaar se Pro16-reeks, waar daar dikwels in die Noordelike Halfrond gespeel gaan word. Gelant sal in daardie opsig baie gemis word.

Dobson is nie bekommerd dat die vestiging van kombinasies in die slag kan bly met die veranderinge wat hy onder sy skakels maak nie.

“Godlen en Tim het vroeër in hul loopbane op o.21- en Vodacombeker-vlak twee en ’n halwe seisoene saam gespeel,” sê Dobson.

Daar is ook ’n groter prentjie wat hy met sy spankeuses in gedagte hou.

“Ons planne vir hierdie toernooi (die CB-reeks) is drieledig. Die primêre doelwit is om die uitspeelrondes te haal en so ver as moontlik te vorder.

“Tweedens moet ons ons diepte uitbou. As Herschel ’n ernstige besering opdoen, sal ons groot probleme hê as die ander ouens nie genoeg blootstelling gekry het nie.

“Derdens gaan ons vorentoe in die Noordelike Halfrond speel, wat ’n nuwe uitdaging is. Wat (daarmee in gedagte) verblydend is, is hoeveel beter ons om veldgebied speel en hoe ons spel in die vaste fasette die afgelope paar weke ontwikkel het.”

Dobson het ook aan sy middelveld verander, met Ruhan Nel wat op buitesenter gekies is. Dan du Plessis skuif gevolglik binnesenter toe, wat Dobson meen sy beste posisie is.

Westelike Provinsie: Damian Willemse, Angelo Davids, Ruhan Nel, Dan du Plessis, Seabelo Senatla, Tim Swiel, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Ali Vermaak, Neethling Fouché, David Meihuizen, Marcel Theunissen, Johan du Toit, Paul de Wet, Tristan Leyds, Jaco Coetzee, Kade Wolhuter, Rikus Pretorius.
Meer oor:  Tim Swiel  |  Westelike Provinsie  |  John Dobson  |  Wp  |  Herschel Jantjies  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.