Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jantjies wen toe die stryd vir Baabaas

Net toe almal dink 2018 se vreemde internasionale rugbyjaar is verby, gaan staan en wen Elton Jantjies ’n wedstryd vir die Barbarians met ’n skepskop.

Die Barbarians se Springbok-haker, Schalk Brits, hou ’n paar Argentynse verdedigers besig in kragmeting Saterdag op Twickenham. Foto: Getty Images

Die Baabaas het Argentinië Saterdag op Twickenham danksy ’n laat drie deur Lood de Jager en ’n skepskop deur Jantjies naelskraaps met 38-35 geklop.

Dít nadat die uitnodigingspan ’n mens vroeër jou kop bykans in skaamte wou laat sak oor die baie foute wat hulle gemaak het. Die Poemas was boonop ná 25 minute se spel met 28-7 voor.

Met 13 Springbokke in die 23-tal en Rassie Erasmus as die afrigter, was dit onafwendbaar dat die Barbarians se spelpatroon so ’n bietjie Bokagtig sou wees.

Van tradisionele Barbarians-rugby was daar by die feesspan aanvanklik nie veel te sien nie en twee van hul vyf drieë het juis op rolmaalbewegings gevolg (vreeslik feestelik!).

Ná ’n uitmergelende seisoen is die Argentyne en Suid-Afrikaners behoorlik pê en dit het Saterdag ook gewys met albei spanne wat ’n magdom foute begaan het.

Hier en daar was daar ’n bietjie vonkelrugby te sien, maar in die eerste helfte was dit eerder die Argentyne as die Barbarians wat vir opwindende rugby gesorg het.

Aphiwe Dyantyi word deur Argentinië se losskakel, Joaquin Diaz Bonilla, geplettervat. Foto: Getty Images

Toe het die Baabaas so vrot gelyk dat ’n mens ’n slagting verwag het, maarhoe meer hulle met die bal begin speel het, hoe beter het hulle begin lyk.

Tipiese Suid-Afrikaanse spelpatrone, soos om ’n “pakkie” voorspelers van ’n losgemaal af te voed, wat die bal dan na agter aan die losskakel uitgee, was volop.

Die binnesenter Damian de Allende het ook ’n paar keer sy kop laat sak en die naaste teenstander gesoek om in vas te boender. O, die nostalgie . . .

As daar drie Bokke was wat hul staal gewys het, was dit die haker, Schalk Brits, die vaskopstut, Trevor Nyakane, en De Jager.

Brits het die bal menige keer gedra en selfs ’n rolskoppie deurgesool wat die Argentyne onder geweldige druk geplaas het. Nyakane was ’n berg in die skrums en het selfs ’n keer omgekeerde besit by ’n afbreekpunt bewerkstellig.

De Jager was puik. Veral sy feesviering ná die skitterende drie wat hy afgerond het, was vyfster. Dié drie was die hoogtepunt van die wedstryd en het op ’n Jesse Kriel-breekslag gevolg.

Op die drie te vier, het De Jager hom verbeel die bal is ’n grassnyer.

As daar drie Bokke was wat hul staal gewys het, was dit die haker, Schalk Brits, die vaskopstut, Trevor Nyakane, en Lood de Jager.

Siya Kolisi het ook ’n baie goeie wedstryd gespeel en gereeld met die bal gehardloop.

Pieter-Steph du Toit is opsigtelik rugbymoeg, al het hy oudergewoonte sy lyf op die spel geplaas.

Handré Pollard het iewers gelees ’n Barbarians-losskakel moet vreeslik fênsie wees en het ’n drie op ’n skinkbord aan die Poemas gegee ná ’n sotlike kortskoppie van agter sy eie doellyn.

Hy het nie ’n goeie wedstryd gehad nie.

Benewens De Allende se stormlopies wat gereeld op dadels uitloop, het hy eintlik nie té vrot gespeel nie. Op die verdediging was hy goed en die min kere wat hy wel die bal uitgegee het, het hy ’n bietjie ruimte ontsluit.

Aphiwe Dyanti het een mooi lopie teen die kantlyn af ingekry.

In ’n jaar waarin die Bokke deur blasers geboor is en slegs 50% van hul wedstryde kon wen, sal die uitslag van dié onnodige wedstryd tog ’n glimlag op ’n ondersteuner of twee se gesigte plaas.

* Puntemakers:

Barbarians 38 (14): Drieë: Juan Manuel Leguizamon, Strafdrie, Siya Kolisi, Damian de Allende, Lood de Jager. Doelskoppe: Handré Pollard (2), Elton Jantjies (2). Skepdoel: Jantjies.

Argentinië 35 (28): Drieë: Matias Orlando, Ramiro Moyano, Pablo Matera, Sebastian Cancelliere, Julian Montoya. Doelskoppe: Joaquin Diaz Bonilla (5).

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Elton Jantjies  |  Trevor Nyakane  |  Twickenham  |  Poemas  |  Barbarians  |  Baabaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.