Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Japan-geelwortel hou Mapimpi in SA

Die Haaie se uitvoerende hoof, Eduard Coetzee, het met ’n slim strategiese toegewing verseker dat die franchise se ster-vleuel Makazole Mapimpi tot 2023 vir die Haaie beskikbaar sal wees.

Doellyn toe! Makazole Mapimpi teen die Rebels in Februarie vanjaar. Foto: Getty

Danksy Coetzee se vergunning om aan Mapimpi sabbatsverlof toe te staan, kan die Bok-vleuel van September tot April 2021 vir Johan Ackermann se Japanse klubspan, die NTT Docomo Red Hurricanes, speel. Hy sal daarna na die Haaie terugkeer.

Die 29-jarige Mapimpi was een van die spelers oor wie Coetzee naels gekou het terwyl spelers die 21-dae-klousule kon benut en huidige kontrak nietig kon verklaar ter wille van ’n beter oorsese een. Dit het Coetzee gedwing om, soos die Westelike Provinsie met Pieter-Steph du Toit, kreatief te werk te gaan om Mapimpi en nog ’n Bok-ster, Lukhanyo Am, te behou.

Die WP het, danksy ’n voorstel van Du Toit se prokureur, Gerrie Swart, die blondekop-losvoorspeler behou nadat hy as ’n handelsmerk-ambassadeur van DHL aangestel is. DHL het volgens die ooreenkoms die reg om die Springbok-ster vir bemarking aan te wend – deur optredes sowel as deur sy beeldregte.

Dis nie onmoontlik dat Coetzee ook die deur vir Am oopgelaat het om in die toekoms sabbatsverlof te neem nie. ’n Ingeligte het aan Rapport gesê die Haaie wil dit egter vermy dat albei op dieselfde tyd weg is.

Coetzee-hulle het vir eers daarin geslaag om Mapimpi-hulle te behou én daarna verskeie langtermynkontrakte met van hul ander spelers gesluit.

Die Haaie se strategie van langtermynkontrakte het reeds met Mapimpi, James Venter en Sikhumbuzo Notshe begin. Hulle almal het driejaarkontrakte, terwyl die norm in Suid-Afrika ’n kontrak van een of twee jaar is.

Curwin Bosch het nog nie sy verlenging geteken nie, maar hy het aangedui dat hy nog lank sy rugby in Durban wil speel.

Am en die vleuel Madosh Tambwe is ook van voornemens om langtermynkontrakte met die Haaie te sluit. Am besluit nog of hy sy kontrak met twee of drie jaar sal verleng.

Selfs jonger spelers soos JJ van der Mescht en Ruben van Heerden se getekende driejaarkontrakte is beklink, wat ’n aanduiding is dat die wiele aan die rol is om die nuwe kontrakteringsmodel suksesvol te implementeer.

Die Haaie poog om verskeie redes om driejaarkontrakte aan te bied. Een daarvan is om bestendigheid in hul gekontrakteerde groep te bewerkstellig, wat later hopelik tot die sukses op die speelveld sal bydra.

Spelers soos Mapimpi- en Am-hulle is belangrik vir die Haaie se handelsmerk aangesien borge graag met sterre soos hulle geassosieer wil word. Bokke soos Mapimpi-hulle is ook ’n trekpleister vir toeskouers.

* Die veelsydige Bul-agterspeler Manie Libbok sal hom om op 1 Julie by die Haaie aansluit.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.