Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Japan-WB oortref alle vorige pogings

Verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan was ekonomies die beste nóg met 242 000 besoekers wat £2,3 miljard (sowat R50 miljard) tot dié land se bruto binnelandse produk (BBP) gevoeg het.

Lede van die Springbokspan bedank ondersteuners in Jokohama ná afloop van die Wêreldbeker-eindstryd in Japan. Foto: Getty Images

Dit was ook die enkele grootste sportgebeurtenis wat nog in Japan plaasgevind het, lui ’n verslag, The Economic Impact of Rugby World Cup 2019, wat die ouditmaatskappy EY vir Wêreldrugby saamgestel het.

Altesame 99% van die kaartjies vir die toernooi is uitverkoop, wat verreweg die meeste van al die toernooie sedert 1987 is.

Daar is 1,83 miljoen kaartjies verkoop wat meegebring het dat die stadions stampvol was van Japanners, van wie meer as 50% die eerste keer rugbywedstryde bygewoon het.

’n Kumulatiewe wêreldwye gehoor van 857,28 miljoen is ook aansienlik meer as die 678,53 miljoen mense wat die 2015-toernooi in Engeland gevolg het.

“Dit was een van dié beste, indien nie die grootste skouspel nóg wat die spel gesien het nie,” het Alan Gilpin, hoof van die Wêreldbeker-toernooi, Woensdag gesê.

“Die toernooi het die verbeelding van die hele Japan en miljoene mense wêreldwyd aangegryp.

“Dit was ongetwyfeld die mededingendste toernooi met die grootste aantal toeskouers en bywoningsyfer, wat kommersieel die grootste sukses van al die nege toernooie tot dusver was.

“Die toernooi was die grootste sportgebeurtenis in 2019.”

Volgens die verslag het die 242 000 besoekers van 178 lande gekom, ’n gemiddeld van 17 dae in Japan gebly en £286 per aand (sowat R6 200) bestee.

Met die vorige toernooi het besoekers gemiddeld 14 dae in Engeland gebly en rofweg die helfte minder uitgegee.

Meer as 60% van die ondersteuners het Japan die eerste keer besoek en het 4,6 keer meer as die gemiddelde toeris in 2018 bestee.

“Japan 2019 was in elke opsig ’n sukses,” het Gilpin beklemtoon.

“Dit wys ook dit was die beste besluit om die toernooi in ’n land aan te bied wat nie een van die grotes in wêreldrugby is nie.”

Die toernooi het 46 000 werkgeleenthede geskep, waarvan baie volhoubaar is.

Ook het dit Japan se status as ’n belangrike rugbymark groter gestalte gegee.

Wêreldrugby sê in die verslag die stewige inkomste van die afgelope twee toernooie kom nou handig te pas met die sport wat midde-in die Covid-19-pandemie finansieel onder druk verkeer.

“Ons is derhalwe in ’n posisie waarin ons die unies in die wêreldwye pandemie finansieel kan bystaan,” sê Gilpin.

Die volgende toernooi vind in 2023 in Frankryk plaas. – Reuters

Meer oor:  Japan  |  Wêreldbekerrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.