Die Japanse Rugbyunie (JRU) wil die “wêreld se beste rugbyliga” tot stand te bring en daardeur sy nasionale span een van die bestes ter wêreld te maak.

Fumiaki Tanaka, ’n toetsspeler van Japan. Foto: Getty Images
Reuters berig uit Tokio dat die JRU ’n beroepsliga, met drie afdelings, wat promosie en relegasie insluit, in 2022 tot stand wil bring.
Dit sal die huidige korporatiewe struktuur – wat ’n top-liga van 16 spanne en ’n tweede liga van nege behels – vervang.
Volgens die nuwe struktuur sal daar ’n top-liga wees van 12 klubs, wat in twee groepe van ses verdeel sal word. Die onderskeie groepwenners sal in ’n eindstryd teen mekaar te staan kom.
“Ons wil hê dit moet die wêreld se voorste liga wees,” het Majoemo Tenigoetsji, ’n direkteur van die nuwe liga se ontwikkelingsmaatskappy, aan joernaliste gesê.
“Ons wil die Japanse nasionale span versterk en die spelers verbeter. Ons wil ook meer mededingende wedstryde hê.”
Ná die Wêreldbeker-toernooi van 2019 is vir die eerste keer oor omvattende veranderinge aan plaaslike rugby in Japan gepraat. Daar was geweldig baie openbare belangstelling in die WB-toernooi, waarin Japan op eie bodem die kwarteindronde gehaal het.
Die plan vir die nuwe liga is dat dit in Januarie sal begin en sodoende met die Suidelike Halfrond se seisoen kan saamval.
Met die verwydering van die Sunwolves uit Superrugby was daar ook vrese dat Japanse spelers nie op ’n hoë vlak blootstelling sou kry nie.
Die plan vir die nuwe liga is dat dit in Januarie sal begin en sodoende met die Suidelike Halfrond se seisoen kan saamval.
Kensoeke Iwhaboetsji, president van die JRU, het egter gesê dat daar nog net met oorsese unies gesels is en geen ooreenkomste bereik is nie.
“Daar is weens Covid-19 onsekerheid oor kalenders so ons kon nog niks bevestig nie.”
Hy het bygevoeg dat daar dalk nie genoeg tyd sal wees om in 2022 reeds teen spanne buite Japan te speel nie.
“Ons wil die weg baan vir Japan om op die hoogste vlak te kan speel,” het hy gesê.
Die begin van Japan se seisoen is Donderdag uitgestel nadat daar Covid-19-gevalle in ses klubs was. – Sportredaksie