Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
KYK: Kroeë reg vir dors Aussies, Engelse

Kry ekstra bier, die Engelse en die Aussies is op pad!

Kroegeienaars in Sapporo is deur dié noordelike Japanse stad se buro vir sportaangeleenthede gewaarsku om genoeg bier in voorraad te hê vir die naweek, wanneer die Wêreldbeker-rugbytoernooi (WB) afskop.

Die Wallabies speel Saterdag in dié stad teen Fidji en Sondag is dit Engeland teen Tonga, ook in Sapporo.

Meer as 80 000 ondersteuners word oor die naweek in die stad verwag.

Dié twee wedstryde is die enigstes wat in Sapporo gespeel gaan word en die stad se beamptes wil pap skep terwyl dit reën.

Die Brian Brew- Ierse kroeg in Sapporo, Japan, verwag om die naweek flink bier te skink. Foto: Facebook | Brian Brew Irish Pub

Beamptes hoop dat die plaaslike ekonomie hierdie naweek ’n inspuiting in die omgewing van 4,7 miljard jen sal kry. Die gebied is bekend vir sy goeie kos, staproetes en ski-oorde.

Sapporo het in 2017 altesaam 2,52 miljoen besoekers verwelkom en is gewoond daaraan om toeriste in groot getalle te huisves. Die stad was in 1972 die gasheer vir die Olimpiese Winterspele en het in 2002 drie wedstryde in die Wêreldbeker-sokkertoernooi aangebied.

Baie rugby-ondersteuners sal dalk ’n draai by Sapporo se biermuseum gooi. Volgens Tokoefoemi Soemijosji, die museum se direkteur-generaal, besoek byna ’n halfmiljoen mense jaarliks dié rooibaksteengebou, wat eens op ’n tyd ’n suikerfabriek was.

Daar kan 1 600 mense op ’n keer in die museum se biersaal ingepas word. Baie van hulle bestel dan ook “djinghisoekan” – lamsvleis en groente – saam met hul bier.

Soemijosji sê hy is nogal bekommerd dat die museum in die knyp kan raak as te veel besoekers die “nomihoudai”-opsie verkies. Besoekers wat dié opsie verkies, kan soveel bier drink as wat hulle wil.

“Ons het gehoor hulle (die Aussies en die Engelse) kan ses of sewe keer meer bier drink as Japannese,” sê Soemijosji.

Daar moet dus seker gemaak word dat die bier nie opraak nie.

“Ons weet die hoeveelheid bier klink belaglik, maar maak asseblief seker daar is genoeg in voorraad,” is Takanori Jamazaki, woordvoerder vir sportaangeleenthede in Sapporo, se pleidooi.

Dit was sokkerondersteuners. Rugbyondersteuners drink meer. Miskien verkoop ons in een dag soveel bier as wat ons gewoonlik in ’n maand verkoop. Enigiets is moontlik.

Een kroeg wat nie kan wag dat die naweek begin nie, is die Brian Brew- Ierse kroeg.

Rjoesoeke Haseghawa, die eienaar, beplan om vir 48 uur aaneen oor die naweek oop te bly.

“Ons wil seker maak hulle geniet hulself totdat hulle moeg word om te drink,” sê hy.

“Vir die WB-sokkertoernooi in 2002 het ons die kroeg om 11:00 oopgemaak en ek het om 11:30 begin bier skink . . . Die laaste besoeker is om 04:00 die volgende oggend daar weg, so ek het die hele dag niks geëet nie en net bier geskink.”

Sy biervoorraad het egter opgeraak en Haseghawa is vasbeslote dat dit nie weer moet gebeur nie.

“Ons het binne drie dae soveel bier verkoop as wat ons gewoonlik in ’n maand verkoop,” sê hy.

“Dit was sokkerondersteuners. Rugbyondersteuners drink meer. Miskien verkoop ons in een dag soveel bier as wat ons gewoonlik in ’n maand verkoop. Enigiets is moontlik.”

– Reuters

Meer oor:  Alkohol  |  Toetsrugby  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.