Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jare sleep vir Cash verby in 9 minute

Die horlosies by Ellispark het lanklaas so stadig geloop soos in die nege minute Woensdagaand wat die Leeus net 13 spelers gehad het om die Westelike Provinsie van die deur te probeer hou.

Die Leeus-vleuel Rabz Maxwane (middel) word deur sy spanmaats oorval nadat hy ’n onderskepdrie gaan druk het wat hul voorsprong tot 28 punte gerek het. Dit was uiteindelik ’n bepalende drie wat hul neus teen die einde net-net voor gehou het. Foto: Gallo Images

In die afrigtershokkie het die Leeus-afrigter, Ivan van Rooyen, agterna erken, het dit gevoel of jare verbygaan.

Van Rooyen kon ten minste lag toe hy gevra is oor die pyn waarin Jaco Visagie en Ruben Schoeman se geel kaarte in onderskeidelik die 68ste en 69ste minuut hul afrigters en spanmaats gedompel het. In die duo se afwesigheid het die Kapenaars 22 onbeantwoorde punte aangeteken en van 38-10 af tot binne ’n verdoelde drie van wen gekom.

Met Visagie en Schoeman terug op die veld kon die Leeus egter ’n sege van 38-32 beredder.

“Ja, dit het gevoel of daar jare verbygaan, dit het soos vir ewig gevoel,” het Van Rooyen met ’n skewe glimlag gesê.

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus. Foto: Getty Images

“In die tyd wat hulle weg was, het ons besluitneming en uitvoering ons ook lelik in die steek gelaat. Ons het die bal vir hulle gegee, waarmee hulle op ons kon afhardloop. Ons afskoppe was te diep vir ons om op mee te ding en hulle vas te pen, daar was ’n kort skoppie van Krappie (Morné van den Berg) wat te diep gegaan het. Daarmee het ons onsself onder druk geplaas, en boonop nie genoeg nommers by die losgemale gehad nie. Jy kan nie sulke foute maak as jy minder spelers op die veld het nie, maar daardie tydperk is een waaruit die ouens baie kon leer.”

Nietemin was Van Rooyen met reg trots op die vertoning wat sy span in die eerste 65 minute gelewer het. Hulle het in minder as 50 minute ses drieë gaan druk en alles met doelgerigtheid en intensiteit gedoen. Dit was ’n merkwaardige ommeswaai van vyf dae tevore, toe die Pumas dieselfde spelers in Mbombela met 36-10 verneder het.

“Ek is baie, baie trots op die manier waarop die ouens teruggekom het en op die karakter en veggees wat hulle gewys het. Selfs toe daar net 13 spelers op die veld was, het hulle steeds hard gewerk.

“Ons was baie meer fisiek, ons benadering was veel beter, die vaste fasette was beter, hoe ons die bal gedra en verdedig het.

“Ek dink dis wonderlik dat die wêreld die potensiaal en vermoëns van hierdie jong spelers kan sien, en dis vir my heerlik om deel te wees van hul ontwikkeling. Jy het spelers soos Manuel Rass, Morné, Notties (Reinhardt Nothnagel), Ruben Schoeman en Vincent Tshituka, wat almal tussen 20 en 24 jaar oud is, maar ongelooflik talentvol is en dit uitleef.”

Die Leeus sal nou eers ’n breuk van die Curriebeker neem en begin fokus op hul wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus op 3 Julie. Van Rooyen sê daar is soveel as 16 spelers wat kan terugkeer van beserings of kwarantyn vir daardie enorme uitdaging. En hy gee ruiterlik te kenne die vertoning van die jongelinge Woensdagaand gaan kopsere veroorsaak wanneer die span daarvoor gekies moet word.

“Maar dis ’n lekker kopseer,” sê hy.

“Ons het ’n scenario gehad waar ons sonder baie van ons spelers moes klaarkom, en nou gaan ons ’n scenario binne waar ons tussen ’n groot aantal ouens kan kies. Albei scenario’s is maar deel van professionele sport, maar ons uitkyk was nog altyd dat die spelers se veiligheid voorop gestel moet word. Ons leef nou in ’n wêreld met sekere realiteite, en ons gaan in die volgende dae ’n paar eerlike gesprekke met ouens (wat deur Covid-19 getref was) moet hê oor of hulle werklik gereed is om teen die Britse Leeus te speel.”

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Leeus  |  Wp  |  Curriebeker  |  Ivan Van Rooyen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.