Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jasper pak sy held Marcell in Pro14

Jasper Wiese, die Cheetahs se agtsteman, kom Saterdag teen sy held van skooldae, Ulster se agtsteman Marcell Coetzee, te staan wanneer die spanne in ’n Pro14-rugbywedstryd in Belfast, Ierland, slaags is.

Jasper Wiese sien uit na sy tweestryd Saterdag met Ulster se agtsteman Marcell Coetzee. Foto: Gallo Images

Die Springbok-losvoorspeler van 30 toetse is Wiese (24) se senior met net vier jaar.

Coetzee het verlede naweek gewys waarom hy een van die 15 spelers is wat vir die toekenning as Europese Speler van die Jaar benoem is. Hy het in die wedstryd teen die Ospreys – wat Ulster met 24-26 verloor het – die bal 23 keer gedra wat die meeste van enige speler in die 11de ronde van wedstryde was.

Wiese besef ’n goeie tweestryd wag Saterdag wanneer hulle vir die eerste keer teen mekaar te staan kom.

“Ek was nog op skool toe Marcell – in 2012 – vir die Springbokke begin speel het. Hy is ’n rolmodel vir my en hierdie gaan ’n groot, maar lekker uitdaging wees.

“Dit is altyd goed as jy jou teen die beste meet en ek glo dit gaan Saterdag die geval wees wanneer ek teen hom te staan kom,” sê Wiese.

Wiese self is ’n derduiwel vir die Cheetahs en hoef vir niemand terug te staan nie. Hy is nie net goed by die afbreekpunte nie, maar ook ’n goeie baldraer.

Wiese glo Ulster gaan die Vrystaatse span by die afbreekpunte die stryd aansê.

Natuurlik speel elke span in die reeks vir ’n plek in die uitspeelwedstryde, so ’n oorwinning oor Ulster sal ons baie help in die aanloop tot so ’n uitspeelstryd.
Jasper Wiese

“Ons verwag dis waar hulle ons sal wil aanvat. Dis ’n afdeling van ons spel waar ons gewoonlik goed vaar, maar ons sal selfs nog beter moet wees teen hulle.”

Alle aanduidings is dat Saterdag se wedstryd nie op ’n deurdrenkte veld gespeel sal word soos die geval met Leinster was nie.

“Ons behoort dan ons wedstrydplan baie beter te kan afdwing en sodoende nie weer teen onsself verloor soos die afgelope naweek nie.”

Wiese glo die tuisspan sal onder groter druk wees.

“Ja, ’n nederlaag plaas druk op enige span, maar ek dink daar is ’n bietjie meer druk op hulle.

“Natuurlik speel elke span in die reeks vir ’n plek in die uitspeelwedstryde, so ’n oorwinning oor Ulster sal ons baie help in die aanloop tot so ’n uitspeelstryd,” sê Wiese.

Soos sake staan, het die Cheetahs een wedstryd teen Ulster gewen, een verloor en een gelykop gespeel.

Die eerste keer dat die spanne swaarde gekruis het, was in 2017 in Belfast, waar die tuisspan die besoekers met 42-19 verniel het. Die wedstryd in 2018 in Bloemfontein het met 39-elk gelykop geëindig.

Verlede jaar, ook in Bloemfontein, het die Cheetahs die Iere pas ná hul Curriebeker-triomf behoorlik met 63-26 afgeransel.

Meer oor:  Marcell Coetzee  |  Jasper Wiese  |  Ulster  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.